Local newsNews

Huisbrande – Wenke om jouself en jou gesin te beskerm

Virseker gee veiligheidswenke om te voorkom dat wintersnoesigheid in ‘n ysige katastrofe ontaard.

Na ‘n toename in huisbrande – met van die mees onlangse gevalle selfs hier aan die Wes-Rand – maan Virseker Suid-Afrikaners om meer waaksaam te wees wanneer dit by brandveiligheid kom.

Volgens Robert Mulaudzi, woordvoerder van die Johannesburgse Nooddienste, is paraffienstowe en kerse steeds die hoofoorsaak van brande in informele nedersettings, terwyl elektriese en gasverwarmers ‘n groot uitdaging aan nooddienste in ander woongebiede stel. Daar is egter talle ander maniere waarop huisbrande kan begin.

Een van die grootste bekommernisse rondom huisbrande is die oortuiging, ‘Dit sal nooit met my gebeur nie’,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker.

“Die feit is dat dit kán en sál as jy net vir ‘n oomblik nie op jou hoede is nie. Dit neem net een gloeiende kooltjie naby ‘n vlambare item, een foutiewe gaspyp of draad, of een skakelaar wat per ongeluk in die AAN- of OOP-posisie vergeet word vir jou om deel te word van die statistieke van totale verlies van jou eiendom … of erger.”

Maak seker dat verhittings-, elektriese- en elektroniese toestelle in ‘n ruim en goed-geventileerde spasie is om oorverhitting te voorkom. Foto: Pixabay. Vir illustrasie-doeleindes.

Virseker bied die volgende veiligheidswenke om te voorkom dat wintersnoesigheid in ‘n ysige katastrofe ontaard:

• Vertrou die kenners: Maak seker dat alle verhittingstoestelle deur die SABS goedgekeur en, waar toepaslik, deur ‘n geakkrediteerde diensverskaffer geïnstalleer is. Verhittingstoestelle wat nie korrek geïnstalleer is nie was al die oorsaak van talle sterftes in Suid-Afrika.

• Lees die handleiding en volg dit: Dis noodsaaklik om toestelle binne die limiet, soos vasgestel deur die vervaardiger, te gebruik. Dit kan ‘n ernstige risiko inhou om byvoorbeeld ‘n toestel vir lang rukke op maksimum hitte te stel, om dit nie op ‘n gelyke oppervlak te plaas nie, om dit te skuif terwyl dit aan is of om dit langer te laai as wat aanbeveel word.

• Bedrading- en pypinspeksie: Maak seker dat alle toestelle, sowel as hul pype en bedrading, in goeie en veilige, werkende toestand is. Neem gasbottels gereeld na jou naaste gashandelaar om hulle na te gaan vir lekplekke. Dit sluit gasbottels vir verwarmers, braaie en stowe in.

Soos wat die winter stadig maar seker sy ysige greep verstewig, word gasverwarmers, kaggels, elektriese verwarmers, paraffienstowe, elektriese komberse en meer ingespan om die koue te verdryf. Foto: Pixabay. Vir illustrasie-doeleindes.

• Hou ‘n ogie: Moet nooit verwarmers, elektriese komberse, kerse of stowe sonder toesig laat nie. Wees veral versigtig voordat jy in die bed klim en maak seker dat alle hittebronne afgeskakel of uitgedoof is.

• Oorlading: Moet nooit ‘n kragbron oorlaai nie. Skakel alle toestelle af wat nie gebruik word nie en prop hulle uit.

• Ventilasiewys: Maak seker dat verhittings-, elektriese en elektroniese toestelle in ‘n ruim en goed geventileerde spasie is om oorverhitting te voorkom. Moenie verwarmers bedek met klere of ander materiaal wat jy graag wil warm of droog maak nie.

• Vuur eerste, gas tweede: As jy ‘n gasverwarmer of -stoof het en dit self moet aansteek, maak seker dat jy die vuurhoutjie of aansteker eerste aansteek, voordat jy die gas oopdraai.

• Opgaarvry: Gaar so min as moontlik items op – in en om jou huis – omdat dit brandstof vir ‘n vuur kan wees. Hou en stoor vlambare materiale, insluitend brandstof, ver weg van hittebronne.

Hou ‘n brandblusser byderhand, veral naby die kombuis en ander areas waar hittebronne gereëld ingespan word. Foto: Pixabay. Vir illustrasie-doeleindes.

• Rookslim: Installeer rookverklikkers in jou woning, indien moontlik. Dis ‘n uitstekende vroeë alarm.

• Hulp, ‘n armlengte ver: Hou ‘n brandblusser byderhand, veral naby die kombuis en ander areas waar hittebronne gereeld ingespan word. Maak seker dat jy weet hoe om dit te aktiveer en te gebruik.

• Noodplan: Maak seker dat uitklinkskakelaars en afsnykleppe in ‘n goeie, werkende toestand is. Hê ook alle nooddiens-kontaknommers byderhand en moenie wag tot ‘n vuur buite beheer is voordat jy die nooddienste kontak nie.

“Aandag aan detail en volgehoue waaksaamheid kan jou huis en/ of die lewens van jou geliefdes red, daarom is dit van kritieke belang om nie gesprekke rondom brandgevare en -veiligheid vir later te los, wanneer dit dalk te laat mag wees nie,” sluit Coetzee af.

“Wanneer ‘n ramp jou wel tref is dit altyd belangrik om eerstens te onthou dat jou lewe belangriker as enige besitting is en, ten tweede, dat goeie, omvattende versekeringsdekking ononderhandelbaar behoort te wees.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Clinton Botha

For more than 4 and a half years, Clinton Botha was a journalist at Roodepoort Record. His articles were regularly published in the Northside Chronicle now known as the Roodepoort Northsider. Clinton is also the editor of Randfontein Herald since July 2020. As a sports fanatic he wormed his way into various "beats - as the media would know it - and admits openly that his big love always have something to do with a scoreboard, crowds and usually a ball that hops.

Related Articles

Back to top button