Saam wil ma en dogter ‘n verskil maak

Charlotte en haar dogter Judy neem tans saam deel aan die Mev en Mej Randfontein-kompetisie.

Charlotte van Wyk en haar dogter Judy van Greenhills neem tans saam deel aan die Mev en Mej Randfontein-kompetisie.

Charlotte, 37, is ‘n finalis vir Mev Randfontein, en Judy, 16, is ‘n finalis vir Mej Randfontein in die kategorie 14–17.

Charlotte het besluit om in te skryf omdat Judy haar aangemoedig het. “Sy het vir my gesê, ‘Mamma, jy is ‘n pragtig vrou. Kom ons pak die reis saam aan’.” Sy het vertel dat sy toe vir die kompetisie ingeskryf het omdat sy ‘n nuwe uitdaging wou hê en uit haar gemaksone wou klim. “Die kompetisie is die perfekte geleentheid om iets saam met my dogter te doen wat sy baie geniet. Ek wil ook ‘n verandering in ons gemeenskap maak,” het Charlotte verduidelik.

Op haar beurt het Judy vertel, “Ek neem deel aan die kompetisie omdat ek meer ervaring wil hê in modelwerk, en meer betrokke wil raak in my gemeenskap. Ek wil graag vir mense wys dat ons as gemeenskap moet saamstaan om verandering te bring. Dit voel fantasties om ‘n finalis te wees vir ‘n kompetisie van my dorp, en om my dorp en sy mense te kan help,” het Judy gesê. ”

Vir Charlotte is dit ‘n unieke ervaring om ‘n finalis te wees. “Dit laat ‘n mens sommer weer jonk en vol geesdrif voel,” het sy vertel.

Die twee het verduidelik dat hulle deur hul deelname aan die kompetisie die gemeenskap deur swaar tye wil help sodat mense weer ‘n doel in die lewe kan hê.

Charlotte het vertel hoe kosbaar die ervaring is om saam met haar dogter aan hierdie kompetisie te kan deelneem, en moedig ander ma’s en hul dogters aan om elke geleentheid te gebruik om dinge saam te doen, want tyd is kosbaar. Hulle daag boonop ander ma’s en dogters uit om so iets saam aan te pak.

“Ons gesin en die meeste van die mense wat ons ken ondersteun ons deelname aan die kompetisie. Met hierdie ma-en-dogterprojek wil ons ander wys dat niks in die lewe onmoontlik is nie. Ek beskou Judy nie net as my dogter nie – sy is my beste vriendin,” het Charlotte gesê.

Exit mobile version