Michelle Roodt, Herald-joernalis het nog ‘n resep met die gemeenskap gedeel. Hierdie keer is dit karamel-springmielieballe. As jy ‘n soettand het, is dit beslis vir jou.
Volgens Michelle is dit ‘n resep waarvoor enige iemand hulle lippe sal aflek, en is boonop so maklik dat selfs die kinders kan dit maak! (Maak seker dat ‘n volwassene help, want daar word met warm bestanddele gewerk.)
Wat jy benodig:
• 125g springmieliepitte
• 150g suiker
• 86g botter
• 70ml stroop of heuning
• 1ml sout
• ‘n klein knippie koeksoda
Hoe om dit te maak:
Spring al die springmieliepitte en hou eenkant vir later. Plaas suiker, botter, stroop/ heuning, sout en koeksoda saam in ‘n pot, en roer deur totdat alles gesmelt het. Kook dan die karamel vir ses minute lank, en roer die mengsel elke twee minute.
Haal karamelmengsel van die hitte af en giet oor die springmielies. Roer dit vinnig deur die springmielies terwyl die mengsel nog warm is. Neem ‘n handvol karamelspringmielies en vorm balle daarmee. Dit sal so hard word.
Deel gerus julle lekker resepte met die Herald.