So gee ma’s vir hul kinders tuisonderrig

Drie ma's van Randfontein vertel hoe dit is om 'juffrou' te wees.

Met die skole gesluit weens die afsonderingstyd het die Herald met drie ma’s in Randfontein gesels oor hoe dit is om vir hul kinders ‘skool te hou’.

Izelle Coetzee van Randpoort het vertel hoe sy hierdie moeilike tyd ervaar. “Dit is ‘n stryd om te moet werk en ‘juffrou’ vir jou kinders te wees. Ek is self ‘n onderwyser en ons is baie bekommerd oor ons skoolkinders, want hulle is net soos ons eie.”

Sy het vertel dat dit belangrik is om ‘n balans te hê sodat alles gedoen kan word. “Dit is makliker met kinders ouer as 10 wat meer selfstandig kan werk. ‘n Goeie idee is om ‘n skedule op te stel wat wys wanneer jy jou kind met skoolwerk kan help en wanneer jou kind self aktiwiteite kan doen.

“Dit is ook belangrik om verskeie vaardighede te kan oefen, maar dan kom die probleem van tegnieke en metodes. Hoe het die juffrou dit verduidelik? Jy wil so graag help maar jy wil ook nie jou kind verwar deur ‘n ander metode as die onderwysers te gebruik nie,” het Izelle vertel.

Sy glo dat dit nie gaan werk om die ander skoolvakansies af te skaf om die werk te probeer inhaal nie, nie want die kinders sal later nie meer kan konsentreer en hul werk bemeester nie omdat hulle doodmoeg sal wees.

Elain Erasmus van Greenhills het vertel dat sy in hierdie tyd saam met haar dogter leer. “Dit voel asof ek terug op skool is maar ek geniet dit baie om saam met haar te werk en te leer. Roetine is baie belangrik. Staan op ‘n spesifieke tyd op en maak gereed om met die skoolwerk te begin. Jou kind moet weet wat voorlê vir die dag.”

Elain het bygevoeg dat sy en Megan saam beplan wanneer om wat aan te pak. “Sy wil altyd eerste Wiskunde doen, dan volg die res.”

Eliska O’Reilly van Randpoort is effens bekommerd dat kinders nie leer soos hulle moet nie en dat onderwysers nie die erkenning kry wat hulle toekom nie. “Elismarie en Jacques mis hul onderwysers en maats vreeslik. Ek as ‘n ouer doen wat ek kan, maar ek verduidelik nie die werk soos die onderwysers nie.”

Sy het bygevoeg dat dit lekker is om as ‘n gesin saam te lag, en dat sy weet nie weet wat sy in hierdie tyd sonder hulle sou doen nie.

Exit mobile version