Afsonderingstyd: Kerke verkondig so die Woord

'Die Here is in hierdie dae op ’n besondere wyse besig met sy kerk, met gelowiges en met die hele wêreld' — Sionspoort-leraar

Die wêreldwye krisis as gevolg van die koronavirus-pandemie veroorsaak groot ontwrigting.

Dominee Johan van Staden, leraar van die Nederduitsch Hervormde Kerk Sionspoort het vertel dat kerke en gemeentes die ontwrigting nie vryspring nie, en moes ook hulle bediening herbedink en herbeplan om steeds die Evangelie in hierdie tyd te laat hoor.

Vir dié doel gebruik hul gemeente elektroniese hulpmiddele en sosiale media. “Elke diens word as podsending op www.sionspoort.org beskikbaar gestel; regstreekse stroming (live streaming) word op Facebook gebruik; die gemeente se Facebook-blad word elke dag opgedateer met nuwe boodskappe; en WhatsApp-boodskappe word elke dag uitgestuur. Op die kleiner WhatsApp-groepe word gesels, en lidmate bemoedig mekaar en deel hul lief en leed,” het hy verduidelik.

Johan het vertel dat dit baie goed ontvang word, en dat veral oudlidmate wat tans in die buiteland is, weer deel word van die gemeentedienste wat hulle so mis in die vreemde.

“Ons lui die kerkklok elke middag om 12uur – een klokslag vir elke grendeldag wat ons reeds gehad het. Die kerkklok verteenwoordig ons solidariteit, ons saamstaan, en ons meelewing met Covid-19 slagoffers, en herinner ons dat God ons nie vergeet het nie.

“Die Here is in hierdie dae op ’n besondere wyse besig met sy kerk, met gelowiges en met die hele wêreld. Ons gaan almal sterker anderkant uitkom. Ons vertroue op God neem elke dag toe. Niks sal ooit weer dieselfde wees nie, maar daar sal ’n ‘nuwe normaal’ wees en gelowiges sien vreesloos uit na die toekoms want ons weet God is reeds daar.

“Gelukkig weet ons dat baie mense nou, gedwing deur omstandighede, meer as gewoonlik met mekaar praat. Dit is baie goed so; dit is een van die beter kante van hierdie tyd. Ons is egter baie bekommerd oor hulle wat alleen in isolasie is; veral diegene wat nie slimfone of internettoegang het nie, is baie afhanklik van telefoonoproepe.”

Johan moedig mense aan om ander te bel, veral vir dié wat in grendeltyd alleen is. “Dit hoef nie ’n lang gesprek te wees nie. Baie mense wat alleen is, het op die koop toe geen toegang tot sosiale media nie. Die telefoon is hulle enigste vorm van kontak, en nou het die foon stil geword – ander se stemme het verdwyn.”

Johan het vertel hoe die belofte in Jeremia 29:11 opnuut betekenis gekry het: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!”

Exit mobile version