Kinders moet boeke lees – ATKV

'Aangesien sosiale media die jongmense se lewens oorneem, wil ons verhoed dat dit al hul aandag opeis' – ATKV

Die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) Comenzo-tak het by die Shaloom Naskool in Randgate gaan kuier om die kinders aan te moedig om aan te hou om Afrikaanse leesstof te lees.

Martie Erasmus, die sekretaresse van die ATKV Comenzo-tak het vertel dat die doel van hul besoek was om kinders te oortuig om liewer boeke te lees as om heeltyd net op sosiale mediaplatforms te kuier. Sy glo dat kinders moet boeke lees om verstandelik te ontwikkel.

Vian Wentzel, Martie Erasmus and Karala Botes tydens die ATKV se besoek aan die Shaloom Naskoolsentrum om lees te bevorder. Foto: Tumi Riba.

“Ek en my man Abri het besef dat kinders deesdae Google en ander media gebruik, nie werklik boeke nie. Aangesien sosiale media die jongmense se lewens oorneem, wil ons verhoed dat dit al hul aandag opeis en dat hulle meer tyd aan lees moet bestee, veral Afrikaanse leesstof. Die kinders moet boeke lees. Dit is ‘n Afrikaanse projek omdat dit onder die vaandel van die ATKV aangepak word.

“Dit was regtig ‘n voorreg om die sentrum te besoek en vir die kinders te vra om vir ons te lees. Ons het vir elke kind ‘n sertifikaat, ‘n bottel water en ‘n sjokolade gegee,” het Martie vertel.

Nicolene Botes of Shalom Naskool het gesê, “Dit is goed om ‘n kultuur van lees te bevorder omdat die kinders verstandelik baie daarby kan baat”.

Exit mobile version