Evan is gebore met vele talente

Om 'n talent vir iets te hê is glad nie vreemd vir dié Graad 10-leerder nie.

Evan Grobbelaar van Hoërskool Jan Viljoen het die asems weggeslaan met sy vermaaktalent tydens vanjaar se groentjiekonsert. Maar dis nie al wat hy kan doen nie …

Om ‘n talent vir iets te hê is glad nie vreemd vir dié Graad 10-leerder nie.

Hy is in November 2019 as die tweede beste klavierspeler in Suid-Afrika aangewys, maar Evan speel nie net klavier nie. Sy kennis van musiek strek ver.

“Ek speel ook kitaar, elektriese kitaar, ukulele en trom,” het hy vertel.

Daarbenewens is Evan as die 2019 Pom-pom van die Jaar aangewys.

“Ek is nie juis die fiksste of maerste persoon nie maar ek sê nie nee vir ‘n uitdaging nie. Voor ek my oë kon uitvee was ek deel van ‘n wonderlike span wat uiteindelik die wenners van die 2019 Randfontein Skou se pom-pomkompetisie was.

“Nog ‘n passie van my is fotografie. Daar is niks lekkerder as om op ‘n uitstappie te gaan en foto’s van alles en almal te neem nie,” het hy vertel.

Maar Evan se eintlike belangstelling lê in die mediese bedryf.

“Toe ek 15 was het ek al klaar verskeie buitemuurse klasse geloop en het reeds ‘n Vlak 3 Noodhulp-kwalifikasie.”

Vir hom is daar geen beter gevoel as om iemand te help wat seergekry het nie en te wys dat jy omgee.

“Ek wil afsluit met ‘n wenk wat my gehelp het om hierdie sukses te behaal. Behalwe dat die Here my die krag en talente gegee het en my deur elke oomblik help en dra, is my slagspreuk vir die lewe die volgende:

“Help almal met alles, wees vriendelik en wees daar vir ander sonder om enige iets terug te verwag, want die beste eienskap wat ‘n mens kan hê is nederigheid en behulpsaamheid.”

Exit mobile version