MunicipalNews

Enorme slaggat: ‘Dit kan nie meer geïgnoreer word nie’

Japie Pretorius is raadop met die munisipaliteit wat nie wil saamwerk nie.

Die enorme slaggat in Steyrstraat in Aureus is ‘n probleem wat nie meer geïgnoreer kan word nie.

Volgens Japie Pretorius, ‘n besigheidseienaar, het al die probleme begin met ‘n waterlek aan die munisipaliteit se kant van die meter in hul erf.

“Ons het al ‘n paar versoeke tot hulle gerig om dit reg te maak, wat glad nie gedoen is nie,” het Japie vertel. Hulle het toe geen ander keuse gehad nie as om ‘n sloot te grawe sodat die water in die pad kon afloop.

Die sloot wat Japie gegrawe het omdat die water die gebou se fondasie begin beskadig het.
Photo: Michelle Roodt.

“Die fondasie van ons gebou het begin skade kry. Ons het die munisipaliteit baie kere gebel. Soms is ons oproepe nie beantwoord nie, en die kere wat dit wel beantwoord is, is daar belowe dat iets daaraan gedoen sou word. Maar niks het gebeur nie.”

Japie het verduidelik dat die water wat in die pad in gelei is, ‘n slaggat veroorsaak het wat nou nagenoeg twee meter by twee meter groot is. “Die water loop steeds uit ons erf uit, maar nou loop dit in die gat in. Ons weet nie hoe diep die gat al is nie.”

Die water vloei nog steeds uit die meter.
Photo: Michelle Roodt.

Hy het vertel dat die watermeter nie eers meer gelees word nie. Die meterlesers loer glo net deur die draad en ry dan weer.

“Ek het al alles probeer, maar nou is ek raadop,” het Japie moedeloos gesê. “Die probleem word net nooit uitgesorteer nie.”

Die privaatkontrakteurs wat hy genader het, het gesê dat net die munisipaliteit iets daaraan mag doen.

Related Articles

Back to top button