Local newsNews

Verskerpte paraatheid en waaksaamheid in feestyd nodig

In ‘n gesamentlike verklaring het Agri SA en TLU SA gesê dat dit moeilik is om hulle lede tot kalmte te maan om nie onverantwoordelik op te tree nie, te midde van die voortslepende voorkoms van plaasaanvalle en die misdaadgolf wat die landbougemeenskap verswelg.

Die 53 moorde wat vanjaar deur die organisasies aangeteken is, in vergelyking met die 54 wat verlede jaar voorgekom het, is onrusbarend en kan nog styg voor die einde van die jaar.

“Daar is vanjaar reeds 383 plaasaanvalle aangeteken, teenoor die 394 van 2018. Dit is ‘n aanduiding van die misdaadrisiko waaraan boere en plaaswerkers daagliks blootgestel word,” het Tommie Esterhuyse, voorsitter van Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid vertel.

Volgens Tommie is Agri SA en TLU SA se veiligheidstrukture ten gunste van die vestiging van ‘n Landelike Beveiligingskoördineringsforum om samewerking en eenheid oor landelike veiligheid binne die hersiene Landelike Beveiligingstrategie te bevorder. “Die forum sal ook ‘n rol speel in die koördinering van ‘n eenvormige standpunt en/ of beleid oor landelike veiligheid en samewerking tot op grondvlak bevorder. Aangesien veediefstal die grootste misdaadbedreiging vir veeboere is, sal die Veediefstalvoorkomingsforum deel van die Veiligheidskoördineringsforum wees.”

“Die naderende feestyd bied geleenthede aan misdadigers om op niksvermoedende mense toe te slaan. Dit is daarom noodsaaklik dat die boerderygemeenskap hul paraatheid sal opskerp en voortdurend waaksaam sal wees. Beide organisasies het ‘n dringende beroep op die polisie gedoen om in hul beplanning vir die feestyd ‘n verskerpte poging aan te wend om die landbougemeenskap te beskerm, deur verhoogde sigbare polisiëring en deur misdaadvoorkomingsoperasies,” het Henry Geldenhuys, Voorsitter van TLU SA se Veiligheidskomitee gesê.

Volgens TLU SA en Agri SA behoort die volgende goeie gewoontes ten opsigte van veiligheid gedurende die feestyd ernstig oorweeg te word:

– Die grondeienaar moet die protokol vir plaastoegang toepas en op sy regte as eienaar van sy plaas staan. Pas effektiewe toegangsbeheer toe en wees altyd bewus van wie jou plaas besoek.

– Grondeienaars moet betrokke raak by hulle plaaslike georganiseerde landboustrukture en plaaswagte.

– Maak seker dat alternatiewe kommunikasiemiddele soos radio’s beskikbaar is vir noodkommunikasie tydens krag- en selfoononderbrekings.

– Vermy sover moontlik die verkoop van plaasprodukte direk van die plaas, veral noudat bek-en-klouseer sy kop uitgesteek het. Dit het reeds die lewens van talle boere gekos, soos die onlangse skietdood van die boer van Wolmaranstad. Misdadigers het onder die voorwendsel om skape te koop, die boer koelbloedig doodgeskiet. In ‘n voorval in Clocolan is ‘n boer ernstig deur voornemende veekopers aangerand.

– Maak seker dat behoorlike kontrole uitgeoefen word oor landbou-insette en -toerusting, en dat dit in die nag behoorlik toegesluit word.

– Maak seker van die beskikbaarheid van regsverteenwoordiging en watter staatsaanklaers beskikbaar is.

– Wees daarop bedag dat veediefstal in dié tyd mag toeneem. Tel jou vee gereeld en wees bewus van waar jou vee wei.

– Wanneer jy op vakansie gaan, maak seker dat waardevolle besittings soos vuurwapens, veilig geberg is.

– Maak besoekers deel van jou veiligheidsbeplanning, sodat hulle ten volle ingelig is hoe om in ‘n noodsituasie op te tree.

Geen beskermingsmaatreëls is ‘n waarborg dat ‘n plaasaanval of misdaad nie sal plaasvind nie, maar dit kan ‘n aanval vertraag of bemoeilik en inwoners die geleentheid gee om alarm te maak.

‘n Beroep word op die landbougemeenskap gedoen om in dié tyd hul vlakke van paraatheid en veiligheid te verhoog en die basiese beveiligingmaatreëls soos huis- en haardbeskerming, streng toe te pas.

Meld alle verdagte optrede en -persone by jou naaste polisiestasie aan.

Goeie kommunikasie met die plaaslike polisie is noodsaaklik en moet gehandhaaf word.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button