Local newsNews

Familie hou groot partytjie om mylpale te vier

Mamma Mia, ons hou lekker partytjie!

‘n Randfontein-gesin het onlangs ‘n klomp mylpale saam met ander familielede by Oppi-Plaas in Krugersdorp gevier.

Helikonpark-inwoners Lydia en Willie Maene het onlangs hul 40e huweliksherdenking gevier. Die egpaar, albei voormalige Hoërskool Riebeeckrand-leerders, woon van jongs af in Randfontein. Lydia het vertel hoe vinnig die 40 jaar se getroude lewe verby is, en as jy kinders en kleinkinders het, pas jy maar daarby aan.

(Van links): Lydia Maene, Johanna Mukoki, Toetie Van Rooyen en Cindy Seebur.

Lydia het die volgende advies gegee vir jongmense in verhoudings en dié wat pasgetroud is. “Julle moet verdraagsaam wees teenoor mekaar, en nie moed verloor nie. Mense gooi deesdae te vinnig tou op en skei te maklik.”

Lydia vier haar 60e verjaarsdag in Desember, en het vertel dat dié mylpaal haar glad nie oud laat voel nie. “Jy is so jonk soos wat jy voel,” is haar kommentaar.

Sy en haar suster, Sophia Rabie, wat in September 50 geword het, het besluit om ‘n groot partytjie te hou om die mylpale te vier aangesien hul ma in Desember 80 jaar oud word.

Talle familielede en vriende het die groot aand geniet.

Die tema van die makietie was ABBA. “Ons al twee is al lankal mal oor ABBA en Mamma Mia. Ons het al die teaterproduksies gesien en na al die flieks gaan kyk, daarom het ons besluit, Let’s do this, Mamma Mia here we go again!” het Sophia vertel.

Oor haar 50 jare het Sophia gesê dat jy so oud is soos jy jouself maak, en dat dit vir haar voel of sy eintlik 25 is. “Dit voel nie eers of ek ‘n halfeeu oud is nie, want jy bepaal jou eie ouderdom,” het sy vertel.

Lydia en Willie Maene op die dansvloer.

Almal het die aand vreeslik geniet. Daar is heildronke op die mylpale ingestel, die kos was heerlik en die partytjiegangers het die vloer warm gedans. Dit was vir seker ‘n onvergeetlike viering.

Related Articles

Back to top button