Riebeeckrand presteer by redenaarskompetisie

Die Riebeeckrand-familie is trots op al hul leerders wat alle aktiwiteite voluit aanpak en uitstekend presteer.

Drie Public Speaking-spanne van Hoërskool Riebeeckrand het gekook tydens die Nasionale rondte van die Radikale Redenaarskompetisie.

Die Graad 8- en die Graad 9-span het albei ‘n tweede plek behaal, terwyl die Graad 9-span 2 as die trotse wenners aangewys is.

Elzeri Wright, skoolwoordvoerder het verduidelik dat dit vanjaar die derde jaar is dat Hoërskool Riebeeckrand se redenaars- en Public Speaking-spanne aan die Radikale Redenaarskompetisie deelneem.

“Op 3 Junie het 12 redenaarspanne en 11 Public Speaking-spanne van Hoërskool Riebeeckrand aan die eerste rondte van dié kompetisie deelgeneem. Ses van die spanne het deurgedring na die tweede rondte waarvan drie spanne deurgedring het om aan die Provinsiale rondte deel te neem.

“Dié drie spanne het uitstekend gevaar tydens die Provinsiale rondte, wat vir hulle ‘n plek in die Nasionale rondte verseker het. Riebeeckrand spog graag met hul Graad 8 en Graad 9 Public Speaking-spanne wat ‘n tweede plek by die Nasionale rondte behaal het.”

Volgens Elzeri het die Graad 9 Public Speaking-span 1 ‘n eerste plek behaal en is as die trotse wenners van die Nasionale rondte van die Radikale Redenaarskompetisie aangewys.

“Dit is voorwaar ‘n uitstekende prestasie,” het Elzeri vertel.

Exit mobile version