‘Ek wil eendag Mej SA word’

Hou haar dop, want Sharica Bondesio gaan nog groot hoogtes in die modelwêreld bereik.

Die meeste 11-jarige dogters speel met poppe, of buite saam met hul maats, maar nie Sharica Bondesio nie.

Sharica van Loumarina is ‘n Graad 5-leerder van Laerskool Randfontein wat byna elke naweek besig is met die een of ander modelkompetisie. Sy spog reeds met 80 titels, wat Miss Elite Suid-Afrika, Miss United Continents, Miss Grand South Africa, Queen of Iceland, Miss Rand Show 2018, National Supermodel RSA, Little Miss Nationals en Petite Miss RSA insluit.

Sharica Bondesio wil groot hoogtes in die modelwêreld bereik.

Volgens haar ma, Erica, was Sharica net agt toe sy met modelwerk begin het.

“Sharica was baie skaam en ek het haar vir modelwerk ingeskryf sodat dit haar selfvertroue kon bou. Dit het baie gehelp en sy is nie meer so skaam soos voorheen nie. Sy kan al baie dinge doen waarvoor sy voorheen te skaam was, en wanneer sy op die loopplank is, straal sy selfvertroue uit.

“Die heel eerste modelkompetisie waaraan sy deelgeneem het, was die skool se Mej Rammie-kompetisie. Sharica het nie gewen nie maar dit het haar aangemoedig om weer deel te neem.”

Volgens Erica het haar dogter aan die einde van 2016 aan Little Miss World Suid-Afrika deelgeneem en in 2017 die geleentheid gekry om aan die internasionale Little Miss World-kompetisie in Griekeland te gaan deelneem. Sharica het tweede in haar kategorie geëindig.

Gedurende die afgelope skoolvakansie het Sharica aan een van die grootste kinderkompetisies in Suid-Afrika, Toddler and Tween of the World, in Klerksdorp deelgeneem. Die kompetisie het oor vier dae gestrek.

Tydens die gala-aand is Sharica as die kategoriewenner in haar ouderdomsgroep aangewys en met talle ander spesiale toekennings vereer.

Erica het vertel dat die modelle net sewe maande tyd gehad het om by opsionele liefdadigheidswerk betrokke te raak.

“In April moes hulle ‘n projek doen oor outisme. Sharica is as een van vyf projekwenners uit die ongeveer 120 deelnemers gekies.”

Sharica het vertel hoe bly sy is dat sy so goed in die kompetisie gevaar het, en dink nie sy sal ooit ophou modelwerk doen nie.

“Ek wil eendag Mej Suid-Afrika word,” het die talentvolle Sharica gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version