NewsSchools

Matrikulante, die eksamen is hier …

Die Herald het vir Stephan Earle, Departementshoof: Engels by Hoërskool Riebeeckrand raad gevra vir matrikulante wat tans besig is met eksamen.

Swak eetgewoontes, die verkeerde studiemetodes en tegnologie is van die faktore wat ‘n rol kan speel in matrieks se voorbereiding vir die eksamen.

So het Stephan Earle, Departementshoof: Engels by Hoërskool Riebeeckrand gesê. Die Herald het hom verlede week raad gevra vir matrieks wat dalk gestres, bang en angstig voel.

Raak ontslae van die selfoon. Studies bewys dat net die teenwoordigheid van ‘n foon, al gebruik jy dit nie, nie net jou konsentrasie verminder nie, maar ook jou geheue beïnvloed.”

Volgens Stephan behoort die keuse tussen ‘n foon en ‘n goeie matrieksertifikaat – wat jy die res van jou lewe met jou saamdra – nie te moeilik te wees nie.

“Leerders moet ‘n goeie balans handhaaf. Jy kan nie net die hele dag sit en leer nie, neem ‘n ruskansie. Gaan gim toe, draf of gaan stap. Moet nie dan nie PlayStation speel of TV kyk nie, want jou brein moet ‘n bietjie afskakel. Oefening is vir my die beste manier. Dit sal ook help om ‘n bietjie van die eksamenstres te verminder.

“Eet breinkos soos vis, eiers, neute, brokkoli, lemoene, bloubessies. Dis net enkele voorbeelde. Koffie is nie die beste nie, drink eerder ‘n koppie groentee, maar water bly die beste. Bly weg van lekkers en gaskoeldrank af.

Begin vroeg leer want jy kan nie in twee dae al die kennis in jou verstand inprop nie. Stel ‘n studierooster vir jouself op en deel jou werk in segmente op. Doen ‘n bietjie hier en ‘n bietjie daar, dan hoef jy die dag voor die vraestel net hersiening te doen.

Volgens Stephan moet mens reg leer. “Jy kan nie net die werk in jou handboek oor en oor lees soos ‘n papegaai en verwag jy gaan dit onthou vir die eksamen nie. Maak gebruik van breinkaarte, kleure en prentjies; maak dit vir jouself interessant, al is die werk self nie interessant nie.

“Onthou, verskillende mense leer effektiewer op verskillende tye. Party kry baie in die oggend reg en kan nie in die middag goed leer nie, dan is die middag dalk ‘n goeie tyd vir ‘n bietjie oefening. Identifiseer die tye wat vir jou werk en gebruik die ander om ‘n bietjie af te skakel.”

Stephan glo dit is goed om met klassieke musiek soos dié van Mozart en Beethoven te leer, want daar is wetenskaplik bewys dat dit jou konsentrasie verbeter. Hy gebruik dit ook in sy klaskamer en laat die leerders dikwels na Classic FM 102.7 luister. Ander soorte musiek is heeltemal onproduktief.

En vir ouers en matrieks – gaan op jul knieë en bid,” is sy raad ten slotte.

 

Related Articles

Back to top button