Laerskool Randfontein se skoolkoerant, Die Ramkiekie, het tydens die Nasionale Skoolkoerantkompetisie uitstekend gevaar en spog met ‘n tweede plek in die Beeld-streek.
Die Ramkiekie bestaan reeds ses jaar en word elke jaar vir die kompetisie ingeskryf. Dit staan onder die leiding van onderwyser en skoolwoordvoerder, Annie Nolan.

Die redaksiespan bestaan uit vyf Graad 6-leerlinge en agt Graad 7-leerlinge.
“Die 14e uitgawe van die koerant is ingeskryf en ons het die beste prestasie tot dusver behaal,” het Annie gesê.
“Die kommentaar van die beoordelaars was dat die Ramkiekie ‘n lekker laerskoolkoerant is met indrukwekkende uitlegblaaie en puik fotonaamlyne van die joernaliste.

“Die redakteurs en Graad 7-redaksielede is uitgenooi na die prysuitdelingsfunksie by Mediapark in Aucklandpark waar al die wenskole hul pryse ontvang het.”




