‘Moet ons ons eie dorp bestuur?’

Minstens vier waterlekke en rioolprobleme is net in Greenhills deur die Belastingbetalersvereniging uitgewys.

Greenhills sit met talle waterlekke en rioolprobleme.

So sê ‘n bekommerde Frans Le Grange van die Belastingbetalersvereniging wat minstens vier probleme in verskillende strate in die area uitgewys het.

In Ravenweg lek daar skoon water uit, en volgens Frans is die probleem sowat vyf weke terug al gerapporteer maar daar is nog niks gedoen om dit reg te stel nie.

In Greenhillslaan lek skoon water uit die teerpad, vermoedelik weens ‘n gebarste pyp. Dit word ook nie herstel nie, ten spyte daarvan dat honderde liters water gemors word en ‘n inspeksiegat deur skoon water oorstroom word.

“Op die hoek van Seringstraat en Palmlaan is daar gryswater wat ‘n dammetjie op die sypaadjie vorm en dan in die pad afloop. Dit is ‘n groot gesondheidsrisiko want dit is naby ‘n parkie waar die kinders speel. Dit is reeds vyf weke lank ‘n probleem.

“Die stadsraad wil hê ons moet belasting betaal maar niks word aan die probleme gedoen nie. Wil hulle ons forseer om ons belastinggeld te vat en ons dorp te bestuur?” het Le Grange gevra.

Hy glo dat die kwessies op provinsiale vlak opgeneem moet word want die probleme word gerapporteer maar niemand doen iets om dit op te los nie.

“Niemand gee aandag nie en geen herstelwerk word gedoen nie.”

Exit mobile version