Local newsNews

Bekende verkoper langs die R28 sterf

'n Man wat gereeld vis en vrugte langs die R28 verkoop het, is onlangs oorlede.

Jacob Johannes Niemand, 55, wat gereeld vis en vrugte langs die R28 verkoop het, is verlede week in ‘n motorongeluk oorlede.

Japie, soos almal hom ken, is oorspronklik ‘n inwoner van Villiersdorp. Hy was die afgelope tyd ‘n bekende in die omgewing wat sy Toyota Hilux-bakkie met ‘n sleepwa langs die R28 geparkeer en vis asook vrugte aan die publiek verkoop het.

Yvette Niemand, sy dogter, het aan die Herald bevestig dat haar pa op Woensdag, 7 Augustus in Caledon in ‘n botsing reg van voor betrokke was. Die bakkie het gerol en haar pa is aan sy ernstige beserings dood. Yvette was ook tydens die ongeluk in die bakkie en sy ontvang tans behandeling.

Sy het haar pa as ‘n spontane, liefdevolle en gerespekteerde man beskryf.

“My pa is baie bekend onder sy klante – veral ook die vissermanne. Hy sal altyd onthou word as ‘n vriendelike en hardwerkende persoon. Hy het baie beteken vir gemeenskappe en altyd gehelp waar hy kon, soos om skole te borg wat wou toer.

“Hy was baie lief vir kinders en het veral ‘n sagte plek gehad vir gestremde en minderbevoorregte kinders. Om sy eie kleinkinders op ‘n bootrit te neem en vis te vang was natuurlik sy gunsteling.”

Japie word oorleef deur sy twee broers Riaan en Casper, sy twee susters Wilma en Linnie, sy vier kinders Yvette, Wilma, Japie en Arno asook sy kleinkinders Alexander en Zandré.

‘n Roudiens sal môre (Vrydag, 16 Augustus) om 2nm in die NG Kerk in Villiersdorp vir Japie gehou word.

Related Articles

Back to top button