Vleisfees slaan asems weg

Randfontein se heel eerste Vleisfees sal lank onthou word.

Honderde mense het die afgelope naweek die heel eerste Vleisfees by die Tuinhekkie in Elandsvlei-hoewe bygewoon.

Die Nederduitsch Hervormde Kerk Sionspoort het die fees aangebied.

Appel Ernst, die fees se mediabestuurder het gesê, “Ons was geseënd, absoluut geseënd. Dit is die enigste manier waarop ons die eerste Sionspoort Vleisfees kan opsom.”

Sy het verduidelik dat Sionspoort se jonger lidmate met die idee vorendag gekom het van ‘n fees vir oud en jonk, met gesonde tradisie en kultuur, en ‘n tikkie nostalgie.

Jeandre du Plessis is heel voor in die koor vir Ram se toutrekspan.

“Die oogmerk was dat dit bekostigbaar moes wees en vir almal die geleentheid bied om saam te kuier. Die droom het vorm aangeneem en vir ongeveer ses maande is daar beplan, gewoel en gewerskaf om die doel te bereik. Met die pragtige sonsopkoms oor die Tuinhekkie op 3 Augustus het die droom meer as ‘n werklikheid geword. Randfontein en ons omliggende gemeenskappe het ons stoutste verwagtinge oortref. Die motors het van heinde en ver ingestroom en ons is oorweldig deur die ondersteuning. Kinders het hulle vergaap aan demonstrasies soos toe die skaap geskeer en die koei gemelk is. Hulle het baie geleer en die interaksie met die diere baie geniet. Die pretpark het die kinders ook besig gehou.”

 

Ethan en Chris Fuhri.

Aktiwiteite soos ‘n veteraanmotoruitstalling, botter- en seepmaak, volkspele, boeredanse en heerlike tradisionele geregte soos pap en kaiings, skilpadjies en varsgebakte boerebrood het ‘n nostalgiese kykie in kosbare kultuurskatte gegee.

“Ons hoop dat dit nooit sal uitsterf nie. Ons moet nie van die hoofoogmerk en hoogtepunt van die fees vergeet nie, naamlik om vars vleis teen bekostigbare pryse te bied. Goeie vermaak en heerlike en vreedsame saamkuier het die pragtige dag mooi afgerond. Ons wil graag ons medewerkers, borge, uitstallers en helpers bedank vir hul ondersteuning. Bo alles dank ons ons Hemelse Vader vir die voorreg en seën om die dag suksesvol te kon aanbied.

“Ons maak vir seker volgende jaar weer so.”

Claudine Cronje, Rentia Beukes en Megan Combrink van Hoërskool Riebeeckrand.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version