Gemeente met ‘n omgeehart

NG Randfontein-Wes se gemeentelede het hande gevat en ‘n omgeeprojek vir NG Welsyn geskep.

Die NG Randfontein-Wes Gemeente het onlangs aan behoeftiges in die gemeenskap uitgereik as deel van hul Mandeladag-vieringe.

Volgens dominee Carel Pienaar wat onlangs diens by die gemeente aanvaar het, het gemeentelede hande gevat en ‘n omgeeprojek vir NG Welsyn geskep.

“NG Welsyn is ‘n organisasie wat uitreik na behoeftiges in die gemeenskap en aan hul ondersteuning bied. Maar in die hedendaagse ekonomie is dit ongelukkig ‘n stryd om dié taak sonder borgskappe en hulp aan te pak.”

Hy het vertel dat die gemeente dié projek met ywer en passie aangepak het.

“Randfontein-Wes se lidmate het waarlik harte van goud. Twee bakkievragte vol niebederfbare produkte, klere en komberse is ingesamel en met trots aan NG Welsyn oorhandig.

“Dit is voorwaar ‘n voorreg om ‘n verskil in die gemeenskap te maak. Ons gemeente sien daarna uit om in die toekoms nog projekte aan te pak en vir glimlagte op gemeenskapslede se gesigte te sorg.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version