Motorfietsryers help rugbyseuns se droom bewaarheid

Motorfietsryers van klubs soos onder andere Mac's Randfontein, lede van die publiek en ander het ingespring om 'n rugbytoer oorsee vir drie plaaslike seuns te bewaarheid.

Die droom vir drie jong rugbyspelers om oorsee te gaan toer is bewaarheid.

Dit nadat ‘n suksesvolle fondsinsameling op Saterdag, 20 Julie vir hulle by Boulevard Pub & Grill in Greenhills gehou is.

Motorfietsryers van klubs soos Mac’s Randfontein, Scream, Naughty by Nature, Tudor Rebels, Crusaders, Road Hogs en Spirit Riders, lede van die publiek en ander het ingespring om die rugbytoer vir die seuns moontlik te maak.

Wian Wray, 17 en Keaton Lensley, 17 – albei van Hoërskool Riebeeckrand – asook Aidan Botes, 12, van Laerskool Rapportryer is gekies om onderskeidelik aan ‘n rugbytoer in Italië en ‘n sewestoernooi in Mauritius deel te neem.

Wian Wray, Aidan Botes en Keaton Lensley.

Volgens Johnny Beneke, eienaar van Boulevard Pub & Grill en president van Mac’s Randfontein het die fondsinsameling onder andere ‘n potjiekoskompetisie en ‘n veiling van sportmemorabilia ingesluit. Kunstenaars Brian Voget en Anray het ook opgetree om die gehoor te vermaak.

Wian, ‘n slot, en Keaton, ‘n vleuel, sal van 19 September vir 10 dae lank ‘n rugbytoer in Italie kan meemaak. Die toer sluit wedstryde in asook besoeke aan toeriste-aantreklikhede soos die Skewe Toring van Pisa.

Kunstenaars Brian Voget en Anray voor met Vaatjie en Bennie Hallatt agter.

Aidan is gekies vir Vision Sport se Impala o.13-sewesspan wat van 24 September tot 1 Oktober in Mauritius aan ‘n toernooi gaan deelneem. Hierdie toernooi gaan van krag tot krag – 130 spelers het in 2013 deelgeneem, en vier jaar later was daar 413 deelnemers. Tydens vanjaar se toernooi sal 12 o.13-spanne van regoor Afrika, Asië asook Frankryk daaraan deelneem.

Exit mobile version