W’aria PPK reik uit na Mosambiek

Westonaria Pinkster Protestante Kerk gaan Engelse, Tongaanse en Portugese Bybels vir bekeerlinge in Mosambiek uitdeel.

Die Westonaria Pinkster Protestante Kerk (PPK) gaan binnekort met Bybels en tente na Mosambiek vertrek om die Woord te verkondig.

Volgens Pastoor Bernie Jansen van die PPK, gaan hy en 15 lede van hul gemeente op 12 Junie na Maputo toe. Hulle het in Maart ook na mense in die area uitgereik.

“Die doel is om na arm gemeenskappe uit te reik. Ons werk saam met ‘n plaaslike pastoor. Ons gaan ‘n paar kerkdienste lei en ‘n leierskapkursus aanbied,” het hy gesê.

“Ons gaan ook sowat vyf kerke daar plant. Ons gaan nou die basiese oprigting doen en oor drie maande gaan ons weer daarheen om ‘n tentkerk op te rig. Dié gemeentes gaan nie noodwendig almal PPK wees nie. Ons werk met verskeie kerke aan daardie kant, want ons wil hoofsaaklik graag die Woord versprei.”

Volgens hom het die arm gemeenskappe in Maputo baie kerke, maar dit is klein gemeentes. Daar is dus ‘n behoefte aan meer kerke.

“Die gemeenskappe waarheen ons uitreik is regtig arm. Ons dek gevolglik al die kostes van die veldtog. Ons gaan selfs Engelse, Tongaanse en Portugese Bybels vir bekeerlinge uitdeel, want meeste van hulle het nog nooit Bybels besit nie.”

Bernie het gesê dat hulle gemeente die veldtog aangepak het in opdrag van die Woord. “Ons het baie borge vanuit die gemeenskap wat ons help om ‘n verskil in Mosambiek te maak,” het Bernie bygevoeg.

Exit mobile version