MunicipalNews

Westonaria-vullisterrein een van die skoonste, maar …

'Westonaria het die oudit geslaag, maar die Randfontein-vullisterrein het slegs aan 46 persent van die vereistes voldoen' – AfriForum.

AfriForum het vanjaar 127 vullisterreine in al nege provinsies geoudit as deel van hul nasionale projek om die gehalte van vullisterreine in Suid-Afrika te meet.

Volgens Hesti Steenkamp, AfriForum se mediaskakelbeampte, het slegs twee uit agt vullisterreine wat in Gauteng-Suid geoudit is, aan nasionale standaarde voldoen.

“Kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis 59 van 2008, moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen,” het sy gesê.

Meyerton en Westonaria se vullisterreine het vanjaar elk met 100 persent geslaag. Daarenteen het Randfontein se vullisterrein slegs aan 46 persent van die vereistes voldoen.

“Die oudit bestaan uit ’n lys van 33 vrae wat die minimumvereistes vir vullisterreine in Suid-Afrika meet en sluit faktore soos toegangsbeheer, brande, mediese afval, omheining en rehabilitasie in. ’n Vullisterrein moet minstens 80 persent behaal om aan wetgewing te voldoen,” het sy bygevoeg.

Volgens Dewet Ungerer, AfriForum se assistentkoördineer vir die Wes-Rand, is die meeste vullisterreine in die gebied in ’n haglike toestand.

“Meeste vullisterreine is in ’n slegte toestand en dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan wanbesteding van fondse en die onkundige besluite wat in hoë posisies gemaak word. Die afwesigheid van afvalbestuurslisensies en die tekort aan die nodige hulpbronne by hierdie vullisterreine is van die grootste probleme wat AfriForum tydens dié oudit opgemerk het,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg dat AfriForum-takke ook druk op owerhede in hul gebiede sal plaas om afvalmoniteringskomitees te stig om die afvalbestuursproses te verbeter. Dié komitees sal bestaan uit munisipaliteite en belanghebbende partye wat vullisbestuur in die betrokke dorp wil verbeter.

“Die ouditverslag sal ook aan die Groen Skerpioene oorhandig word vir verdere ondersoek en optrede teen skuldige munisipaliteite. AfriForum sal die proses deurlopend monitor om te verseker dat vullisterreine op peil gebring word,” het hy gesê.

Related Articles

Back to top button