Dwelms verkoop soos soetkoek

Volgens pastoor Edward van Schalkwyk van Turn to Eternal Life Bedieninge verwoes dwelms baie lewens aan die hele Wes-Rand.

Dwelmmisbruik in Randfontein is ‘n groter probleem as ooit tevore. Dit is die mening van pastoor Edward van Schalkwyk.

Dié pastoor van Turn to Eternal Life Bedieninge is hard aan die werk om die gemeenskap bewus te maak van die gevare van dwelmmisbruik, asook waar om hulp te kry. Hy het van 20 tot 24 Mei ‘n stalletjie voor Greenhills Spar opgeslaan om mense bewus te maak van dié euwel en om raad te gee vir families van dwelmverslaafdes.

“Dwelms is ‘n baie groot probleem in Randfontein en is orals beskikbaar. In elke buurt of gebied sal dit mens net 20 minute neem om iemand te kry wat dwelms verkoop. Die grootste probleem in die dorp is kristalmetamfetamien (crystal meth) en heroïen,” het hy gesê.

Volgens hom verwoes die dwelms baie lewens aan die hele Wes-Rand. Hy het die afgelope paar jaar al 40 mense gehelp om van ‘n dwelmverslawing te rehabiliteer, waarvan 35 gevalle groot suksesse was.

“Ons sien mense van so jonk as 14 tot mense in hul 60’s wat verslaaf is aan dwelms. Baie mense dink dat dagga tot dwelmverslawing ly, maar eintlik is alkohol die eerste stap tot dwelmverslawing. Morfien kan mens ook verslaaf maak, dis waarom dit net in uiterste gevalle voorgeskryf word.”

Hoewel Edward besig is om sy eie rehabilitasiesentrum op te rig, help hulle verslaafdes deur hulle na verskeie rehabilitasiesentrums aan die Wes-Rand te stuur en om berading te gee vir verslaafdes se familie. Rehabilitasie is egter baie duur.

“‘n Persoon wat dwelms in Randfontein verkoop maak maklik R300 000 ‘n dag. Dink net hoe ‘n groot verskil dit in die wêreld sal maak as daardie geld aangewend word om mense te rehabiliteer in plaas daarvan om dwelmbase ryk te maak,” het hy bygevoeg.

Exit mobile version