Local newsNews

#WysheidWoensdag: Jou troeteldier se veiligheid

Die vergiftiging van troeteldiere en die nuus van 'n onthoofde dier is 'n groot kommer in die hele Randfontein. Vir dié week se #WysheidWoensdag het die Herald met Castaways Animal Sanctuary hieroor gepraat.

Troeteldiere se veiligheid is ‘n groot kommer in die hele Randfontein.

Op 14 Mei het die Herald berig oor ‘n skokkende voorval waartydens ‘n hond in Eikepark onthoof is. In April is honde veral in die plotareas vergiftig. Vroeg vandeesmaand is ‘n kat glo doodgeskiet en ‘n ander kat in die Homelake-area vergiftig.

Die Herald het in die lig hiervan vir Louisa Rossouw, die eienaar van Castaways Animal Sanctuary in Wilbotsdal, gevra hoe troeteldiereienaars kan verseker dat hul vierbeenkinders meer beveilig kan word.

Volgens Louisa kry hulle baie gevalle van dieremishandeling by dié geregistreerde niewinsgewende diereskuiling.

“Katte en honde word daagliks regoor Randfontein vergiftig. Mense moet hul diere snags in die huis laat slaap of ten minste agter in die erf toemaak sodat hulle nie van buite die erf gesien kan word nie,” het sy gesê.

Louisa het bygevoeg dat dit ook belangrik is om honde van kleins af te leer om nie by vreemdelinge kos te vat of om van die grond af te eet nie, want dit is hoe hulle vergiftig word. As honde in die huis slaap, moet die eienaars soggens in die erf rondkyk vir vreemde voorwerpe voordat hulle uitgelaat word.

“Ons troeteldiere is ons kinders, dis familie. Ons moet hulle mooi oppas en besorg wees oor hulle veiligheid,” het Louisa gesê.

Related Articles

Back to top button