Fees van boeke vir Moedersdag

Die openbare biblioteek in Randfontein poog om Moedersdag, vandag 12 Mei, ekstra spesiaal te maak.

Vandag is Moedersdag en die openbare biblioteek in Randfontein poog om dié dag ekstra spesiaal te maak.

Volgens Michelle Devadasan, biblioteekassistent, het hulle ‘n uitstalling by die biblioteek se ingang spesiaal vir ma’s.

“Ek sien baie jong swanger vroue wat hier instap op soek na inligting oor swangerskap en hoe om babas groot te maak. Die uitstalling stel dié tipe boeke ten toon. Ons het ook storieboeke uitgestal wat ma’s vir babas kan lees, want dit is belangrik dat ma’s en hul kinders van vroeg af ‘n verhouding het,” het Michelle gesê.

Die uitstalling gaan die hele maand by die biblioteek in Sutherlandlaan te sien wees.

“Ek is self ‘n ma van vier kinders en ek weet tussen die werk, jou man en jou kinders kry jy geen tyd vir jouself nie, maar ons wil ma’s aanmoedig om tyd vir hulself te maak en om hulself met ‘n heerlike storieboek te bederf. Moedersdag is ‘n baie belangrike dag in my huis en ek wil dit oordra aan die gemeenskap,” het sy bygevoeg.

Exit mobile version