Op 12 April het die Raakvatters van Laerskool Rapportryer (Rappies) in Brandvlei by die Cradle of Man Taksidermis gaan kers opsteek om te sien hoe diere opgestop en bewaar word.
“Die leerders het ’n toer deur die fabriek gehad waar al die stappe mooi aan hulle verduidelik is. Die hele proses vandat die dier geskiet is totdat die trofee gemonteer word, is ’n hele mondvol wat die leerders met groot nuuskierigheid waargeneem het,” het Roleen Olivier, skoolwoordvoerder vertel.
Volgens Roleen was die uitstappie ‘n reuse sukses en het dié Rappies-leerders baie geleer.
“Hulle kon selfs aan die gemonteerde diere vat – iets wat hulle in die natuur self nooit sou kon doen nie,” het sy bygevoeg.