Local newsNews

Morné deel sy passie vir musiek

Morné van der Westhuizen, ‘n plaaslike sanger, werk tans aan sy eerste album.

Klavier, kitaar en sang is Morné van der Westhuizen se passie en hy is glad nie skaam om dit met Randfontein te deel nie.

Hy was in Graad 3 toe hy die eerste keer opgetree het en het onlangs sy eie musiekskool begin.

“Die gogga het my gebyt en ek wou net sing. Ek het by die kerk se orkes aangesluit en van daar af het my musiekloopbaan gegroei,” het die 26-jarige gesê.

As ek musiek maak voel dit of ek net myself kan wees. Oor 20 jaar wil ek steeds in die bedryf wees.”

Hy speel graag by feeste en kerke, en is baie lief vir alle genres. Sy gunstelinge bly egter Afrikaans, gospel en country.

“Ek het nog nooit ‘n rolmodel in die musiek-bedryf gehad nie. Vir my is almal gelyk en ons het elkeen ‘n unieke talent van God gekry, daarom kan jy jouself nie aan iemand anders meet nie. Ek doen maar net wat my gelukkig maak,” het hy gesê.

Morné was aan die begin skrikkerig om op die verhoog te verskyn, maar hy het baie gou daaraan gewoond geraak. Hy werk tans aan sy eerste album en is baie opgewonde om sy eie liedjies te skryf.

Sy musiekskool is ook ‘n reuse sukses.

“Mense kon sien hoe groot my passie vir musiek is en baie het my kom vra of ek hulle ook kon leer.

“Ek het in 2018 uiteindelik die Sound and Music Musiekskool in Randfontein begin en dit is werklik ‘n seën om my liefde vir musiek met ander te deel.

“Ons kunstenaars moet mekaar ondersteun en ek geniet dit om te sien hoe my studente groei,” het hy gesê.

Een van sy studente het onlangs ‘n CD-kontrak gekry en aan South Africa’s Got Talent deelgeneem waar sy baie goed presteer het. Sy vrou, Veronica, is sy grootste ondersteuner.

“Ek is baie trots op my man. Ons het in 2015 ontmoet en ek het hom eers nie geglo toe hy gesê het dat hy ‘n sanger is nie.
“Op ons eerste afspraak het hy vir my ‘n liedjie gesing en toe was die koeël deur die kerk,” het sy gesê.

 

Related Articles

Back to top button