Local newsNews

Elke bietjie help

Marie van Vuuren het by die We’re Against Starvation Foundation betrokke geraak omdat sy wou help om kinders ‘n gelukkige kinderlewe te gee en om seker te maak dat al die bejaardes in die area gelukkig en versorg is.

Kinders lê Marie van Vuuren baie na aan die hart, want sy glo ‘n kind is ‘n geskenk van God.

Sy het by die We’re Against Starvation (Was) Foundation betrokke geraak omdat sy wou help om kinders ‘n gelukkige kinderlewe en skoolloopbaan te gee, en om seker te maak dat al die bejaardes in die area gelukkig en versorg is.

Marie van Vuuren, 58, werk voltyds by Old Mutual, maar reik in haar vrye tyd graag uit na kinders en bejaardes in nood. Sy is die Was Foundation se kontakpersoon in Randfontein.

“Om die dankbaarheid te sien op mense, veral bejaardes en kinders se gesigte wanneer hulle ‘n pakkie lekkers of ‘n speelding ontvang, laat iets blywend in jou hart. As ek so terugdink dan dank ek die Here dat ek die geleentheid kon kry om my medemens te help en om nie neer te kyk op dié in nood nie, maar hulle met liefde te kan help.”

Die Was Foundation is in 2009 deur Esmarelda van Zyl gestig. Sy het oorspronklik diere gehelp, maar het later besef dat daar ‘n groot nood in die arm gemeenskappe regoor Gauteng is. Hulle help gereeld 1 200 mense op verskeie plekke in die provinsie.

Marie wou by die organisasie betrokke raak omdat sy ‘n sagte plekkie vir minderbevoorregte kinders en bejaardes het.

“Van die kinders rondom ons ken nie geluk nie en bekommer hulself oor waar hulle kos gaan kry vir aandete of vir hul kosblik. Dit breek my hart as ek weet sommige kinders het nie vanaand krag in hul huise nie, wat nog van kos,” het Marie gesê.

“Bejaardes is my hart se punt. Op jou oudag moet jy jou aftrede kan geniet, maar baie van ons bejaarde mense se pensioen word gebruik net vir verblyf en dan is daar niks oor vir kos nie. Baie mense is trots en kry skaam om vir hulp te vra, maar ons probeer almal help waar ons kan.”

Marie is baie betrokke by die Was Foundation se jaarlikse gholfdag. Hulle gebruik dié geleentheid om fondse in te samel. Die Was Foundation is totaal afhanklik van donasies, klere en kos, en met die koue winter wat op pad is, het hulle ‘n tekort aan langmouklere.

Sy is ook baie betrokke by die Was Foundation se skuiling, Rainbow Haven, in Krugersdorp.

“Ons probeer ook die mense help om werk te kry en sodoende hulle weer op hulle voete te help,” het Marie gesê.

Volgens haar is die nood baie groot in die area en elke bietjie help.

“Ons voorsien kospakkies, klere en benodighede vir babas asook vir die bejaardes. Ons gee nie kontant aan mense nie. Ek hoop mense raak meer bewus van die nood in die area en hoe hard ons vrywilligers werk om ‘n verskil te maak. Ek hoop ook dat mense die vrymoedigheid sal hê om donasies te gee en ons in staat te stel om ons mense in nood in ons eie gemeenskappe in Randfontein te kan ondersteun en help waar dit moontlik is,” het sy gesê.

Related Articles

Back to top button