‘n Unieke fees aan die Wes-Rand nét vir kinders

Die Wêlakapêla Kinderfees vind op 11 en 12 Mei by die Ruimsig-atletiekstadion plaas.

Kinders van alle ouderdomme word uitgenooi om deel te wees van die heel eerste kunstefees spesiaal nét vir hulle.

Die Wêlakapêla Kinderfees, aangebied deur akteur Wynand van Vollenstee en sakevrou Mariaan du Plessis in samewerking met die Roodepoort Record en Roodepoort Northsider, vind op 11 en 12 Mei by die Ruimsig-atletiekstadion plaas en beloof om groot pret te wees.

“Die doel van hierdie fees is om die jeug te verryk deur hulle bloot te stel aan die wonderlike en opvoedkundige wêreld van die kunste soos kinderteater, poppekas, musiek, interaktiewe teater en vele meer. Dit beloof om ‘n hoogtepunt op alle gesinne se kalender te wees,” het Wynand gesê.

Tjiff en Tjaff.

Hy het bygevoeg dat hulle beoog om van hierdie fees iets uniek te maak wat nog nooit tevore in Suid-Afrika gesien is nie.

“Hierdie unieke ervaring sal ‘n eerste van sy soort wees en sal gefokus wees op die ontwikkeling van die kunste vir kinders van alle ouderdomme en etniese groepe,” het hy gesê.

Besoekers aan die Wêlakapêla Kinderfees kan daarna uitsien om van hul gunstelingkarakters in topproduksies op die hoofverhoog te sien, wat Lollos en Lettie, Tjiff en Tjaff, Gretha Pers, Michelle Botha se poppeteater en die Die Laaste Mango/ The Light Warrior insluit.

Daar sal ook ‘n enorme opblaasspeelpark, pretritte, miniskoonheidsalon, spookhuis, speelgoed- en lekkergoedwonderland, verskeie stalletjies wat slegs kinderprodukte verkoop, kosstalletjies en vele meer wees.

Vir die ouers sal daar ‘n ‘Wine and Dine’-area wees. “Ouers hoef ook nie oor die veiligheid van hul kinders bekommerd te wees nie, aangesien ons uitstekende sekuriteitsmaatreëls in plek sal hê vir die twee dae.”

Kaartjies kos R175 per persoon (vir babas onder die ouderdom van ‘n jaar is dit gratis). Hierdie prys sluit alle produksies, vermaak, asook die opblaaspark in. Slegs ‘n beperkte aantal kaartjies is beskikbaar; om teleurstelling te voorkom, besoek https://www.webTickets.co.za vandag nog.

Vir meer inligting oor die fees, besoek https://www.welakapelafestival.co.za/.

Exit mobile version