Buffalo Ranch in Pelzvale het die kinders en personeel van Smiling Angels Kinderhuis met ‘n groot partytjie op Sondag, 14 April bederf.
Johan van Wyk, die bestuurder van die besigheid het gesê dat hulle reeds in 2018 van dié niewinsgewende organisasie in Westonaria te hore gekom het. Hy het toe besluit om aandag aan hul behoeftes te gee.
Pizza Perfect in Westonaria het vir die kinders ‘n heerlike ontbyt geborg terwyl Greenhills Spur seker gemaak het dat elke kind ‘n smullekker middagete kon geniet. Theresa Jooste van Magaliesburg het ook die makietie bygewoon en het ‘n hele bees aan die kinderhuis geskenk.
“Die hele dag het oor liefdadigheid gegaan en om vir die kinders wat nie gevra het om in so ‘n situasie te wees nie, ‘n onvergeetlike dag te gee. Ons doel was om hulle te help om elke aand ‘n bord warm kos te hê,” het Johan gesê.
Hy het bygevoeg, “Ons is baie dankbaar vir elke persoon wat die groot dag moontlik gemaak het”.