NewsSchools

Groot gees by Riebeeckrand se opedag

Hoërskool Riebeeckrand het hul besoekers soos ware Riebeeckranders laat voel tydens hul opedag.

Die Graad 7’s van verskeie laerskole het onlangs die geleentheid gehad om die lewe van ‘n Riebeeckrander te ervaar en eerstehands te beleef.

Volgens Elzeri Wright, Hoërskool Riebeeckrand-woordvoerder, het die skool op 10 April hul opedag gehou en heerlik saam met die Graad 7-leerders gekuier. Die hoogtepunte was die interessante praktiese aktiwiteite, smullekker kos en ‘n optrede deur ‘n bekende musiekgroep.

Hoërskool Riebeeckrand het hul besoekers soos ware Riebeeckranders laat voel tydens hul opedag. Foto: Ingestuur

Graad 7’s het verskeie klasse besoek waar verskillende vakke aangebied word en saam met die skool se onderwysers en leerders praktiese aktiwiteite gedoen – wat vet pret was. Vir middagete het elke leerder aan ‘n heerlike pizza gesmul en vir die soettande was daar kolwyntjies en ‘n pakkie vol heerlike lekkernye om aan te peusel.

“Dié dag is behoorlik op ‘n hoogtepunt afgesluit deur ‘n geesvangsessie soos net Riebeeckrand dit kan doen. Die bekende sanggroep, Tussen Sterre, het opgetree en die saal se dak behoorlik laat lig,” het sy gesê.

Hoërskool Riebeeckrand het hul besoekers soos ware Riebeeckranders laat voel tydens hul opedag. Foto: Ingestuur

Graad 7-leerders en hul ouers het ook die aand ‘n sessie bygewoon waartydens hulle nuttige inligting ontvang het. Beeldmateriaal van al Riebeeckrand se aktiwiteite het ‘n positiewe indruk op die ouers gemaak.

“Met ouers, personeel en leerders wat saam lag, gesels en koffie en tee kan geniet, is dit vir ouers en Graad 7-leerders ‘n baie maklike keuse om te maak. Die Riebeeckrand-familie is opgewonde om in 2020 ons nuwe Riebeeckranders en hul ouers met ope arms te verwelkom,” het sy bygevoeg.

Related Articles

Back to top button