#MunisipaleMaandag: Pearlstraat na 20 jaar steeds ongeteer

Die inwoners van Pearlstraat in Toekomsrus is al moeg daarvoor om die een na die ander petisie te teken om die laaste deel van dié straat te laat teer.

Hoewel al die inwoners van Pearlstraat in Toekomsrus hul munisipale rekeninge getrou betaal, is die pad voor ses huise vir langer as 20 jaar steeds ongeteer.

Hulle gebruik ‘n grondpad wat verby die huise loop, maar wanneer dit reën is die pad onbegaanbaar want die reënwater dam in poele op.

Volgens Hullet Hild, DA-raadslid, het hy onlangs ‘n petisie by die munisipaliteit ingedien om die pad uiteindelik geteer te kry, maar die munisipaliteit se terugvoer was teleurstellend.

“Hulle het op die petisie gereageer en gesê hulle weet van die probleem, maar dat hulle dit nie tans kan regmaak nie. Die pad is lelik en gevaarlik, en dit lok kriminele en onwettige vullisstorting,” het hy gesê.

“Die munisipaliteit het nie oorspronklik beplan dat die buurt tot hier sou uitbrei nie, daarom het hulle net geteer tot waar die straat eindig. Later het die munisipaliteit toestemming gegee dat huise verder af in die straat gebou kon word, maar hulle het nooit ‘n plan gemaak met die pad nie. Die inwoners betaal maandeliks vir dienste wat hulle nie kry nie. Daar moet ‘n plan gemaak word.”

Hullet Hild, DA-raadslid vertel dat die pad voor ses huise in Pearlstraat nooit geteer is nie. Foto: Jaco-Mari Futcher

Sonia Maree, wat in een van die huise woon wat aan die grondpad grens, het gesê dat hulle hul vullissakke byna ‘n blok verder moet gaan aflaai, want die munisipale trok kom laai dit nie voor hul huise op nie as gevolg van die grondpad.

Nog ‘n inwoner, Orishen Abrahams, het gekla oor die stof wat deur die pad veroorsaak word. “Ons moet ons deure en vensters toehou, want die pad maak baie stof. Mense gebruik die grondpad as ‘n deurpad om vinnig in en uit Toekomsrus te kom, maar al die stof eindig in ons huise op,” het hy gesê.

Hullet Hild, DA-raadslid vertel dat die pad voor ses huise in Pearlstraat nooit geteer is nie. Foto: Jaco-Mari Futcher

Ursula Kock woon al 20 jaar in die straat en het gesê dat sy keelvol is om heeltyd petisies te teken om ‘n teerpad voor haar huis te kry.

“Ek wou al self die pad laat teer, maar ek gaan nie die munisipaliteit se werk vir hulle doen nie. Ons betaal elke maand ons rekeninge, maar ons kry nie dienslewering hier nie. Buiten die toestand van die pad en die probleme met vullisverwydering, werk net een van die ligte in dié deel van die straat en die bosse lok kriminele,” het Ursula bygevoeg.

Exit mobile version