Kleuters word gepamperlang

Een van die Rosiemarie Kahn Kleuterskool-mammas werk by 'n salon en het almal by die kleuterskool soos prinsesse en prinse laat voel.

Kleuters van Rosemarie Kahn Kleuterskool is op Donderdag, 11 April, van kop tot tone gepamperlang.

Ilsa Otto, hoof van die kleuterskool, het gesê dat een van die kleuters se mammas, Samantha du Plessis wat by Salon Beaudine werk, aangebied het om die dag by die kleuterskool deur te bring en almal soos prinsesse en prinse te laat voel.

“Die meisies se naels is geverf en hulle het heerlike versnaperings geniet terwyl hulle voetbehandelings gekry het. Sommige seuns was baie nuuskierig oor die spadag en het hul naels laat knip,” het sy gesê.

Mieke Crous geniet ‘n voetbehandeling. Foto: Jaco-Mari Futcher

Die kleuters het vroegoggend baie opgewonde met hul kamerjasse by die skool aangekom. Sy het gesê dat dié dag ‘n groot sukses was en dat hulle dit binnekort weer gaan aanbied.

“Die meisies het behoorlik gestraal nadat hul gepamperlang is. Dis belangrik vir kleuterskole om kurrikulums te volg sodat kleuters skoolgereed kan wees, maar kleuters moet ook weet hoe om pret te hê. Hulle het die dag terdeë geniet.”

Verskeie besighede het dié spesiale pamperlangdag moontlik gemaak. Samantha en haar span doen gereeld soortgelyke spapartytjies saam met ‘n spysenier en het vir elke kleuter ‘n geskenkie gegee wat deur Ruko Construction geborg was.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version