OPVOLG: Reaksie-offisier doodgeskiet geïdentifiseer

Familie identifiseer reaksie-offisier wat tydens Tarlton-rooftog doodgeskiet is.

Die reaksie-offisier van Mapogo A Mathamaga wat Maandag, 8 April, noodlottig gewond is tydens ‘n rooftog in Tarlton is deur familie as Christo Basson, 56, geïdentifiseer.

Sersant Carmen Hendricks, Randfontein-polisiewoordvoerder het bevestig dat twee besighede omstreeks 9vm daardie oggend beroof is.

Lees die oorspronklike artikel hier:

R’fontein Mapogo security officer shot and killed

Volgens Hendricks het een van die personeellede ‘n paniekknoppie gedruk en die reaksie-offisier het daarop gereageer. Die rowers het op hom geskiet toe hy op die toneel aangekom het en hy is tydens dié skietvoorval dood.

Amanda Reynecke het bevestig dat die reaksie-offisier haar 56-jarige broer, Christo Basson is.

Herman Coetzee, operasionele bestuurder van Mapogo in Randfontein het bevestig dat Basson as ‘n reaksie-offisier vir hul tak gewerk het.

Volgens Reynecke word Basson oorleef deur sy vrou Nicolene en haar dogter Nadia. Hulle wou nog nie sy dood met die Herald bespreek nie.

“Hy het ‘n groot impak gehad op die lewens van almal wat hom geken het. Hy was vir 36 jaar lank in dié beroep en ons het nooit gedink dat hy so sou doodgaan nie. Hy was reg deur sy lewe ‘n baie goeie man en hy het ‘n baie sagte hart gehad,” het Reynecke gesê.

Basson het in Randfontein grootgeword en was vir baie jare ‘n reaksie-offisier in Randfontein en Tarlton.

“Sy begrafnisdiens word Maandag, 15 April, om 11vm by die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika in Tarlton gehou en hy sal daarna in die Greenhills Begraafplaas in Randfontein begrawe word,” het Reynecke gesê.

Exit mobile version