MunicipalNews

Vullissakke weke laas verwyder

Culemborgpark, Greenhills en Helikonpark is maar net ‘n paar van die buurte waar die munisipaliteit die afgelope maand sommige strate oorslaan wanneer hulle vullissakke verwyder.

Verskeie buurte in Randfontein het die afgelope maand probleme met vullisverwydering ervaar.

Volgens Craig Harrison, DA-raadslid vir Wyk 7, word sommige strate weekliks oorgeslaan wanneer die munisipaliteit die vullissakke verwyder.

“Ek het dit al telkemale gerapporteer, maar die volgende week is dit dieselfde storie. Die antwoorde wat ek van die munisipaliteit af kry is dat hulle nie genoeg voertuie of brandstof het om die diens te lewer nie,” het hy gesê.

Hy het gesê dat Culemborgpark, Greenhills en Helikonpark maar net ‘n paar van die buurte is wat deur dié swak dienslewering geraak word. Die vullisakke hoop op die sypaadjies in die buurte op.

“Inwoners kan hul vullissakke by die stortingsterrein gaan aflaai om die probleem draagliker te maak, maar dit los steeds nie die probleem op nie. Inwoners betaal belasting sodat dienste soos vullisverwydering gelewer kan word en as inwoners self ‘n plan gaan maak om die vullissakke weg te ry, gaan die munisipaliteit gemaklik daarmee raak,” het hy gesê.

Harrison het gesê dat hy gaan aanhou om druk op die munisipaliteit toe te pas tot die probleem opgelos is.

 

Related Articles

Back to top button