Local newsNews

Hiermee hou die VLU-lede hul besig

Die lede van Randfontein se Vroue Landbou-unie geniet dit om hulself uit te daag en nuwe vaardighede te leer.

Naaldwerk, kook en fotografie is maar net ‘n paar van die dinge waarmee die lede van die Vroue Landbou-Unie (VLU) se Randfontein-tak hulself besig hou.

Volgens Gerda Benadie, voorsitter en stigter van dié tak, is hul maandelikse vergaderings hope pret. Hulle het tydens hul vergadering op 4 April geleer hoe om Temari-balle met garing te versier.

Jarika Crous het ‘n hele paar Temari-balle versier. Foto: Jaco-Mari Futcher

“Soos elke ander tak het ons ook sekere opdragte om te doen, maar dit gaan oor baie meer. Die vergaderings is vir baie van die vroue ‘n tyd om weg te breek van hul besige lewens en om net ‘n bietjie te ontspan en ander vroue se geselskap te geniet,” het sy gesê.

Hulle hou ook gereeld werkswinkels en geniet koek en tee tydens hul vergaderings in Greenhills. Die Ridderspore Aandtak in Randfontein is die laaste aandtak in Suid-Afrika.

Orsiela Kruger en Gerda Benadie versier Temari-balle. Foto: Jaco-Mari Futcher

“Ongelukkig kan ons nie op uitstappies gaan nie, maar meeste lede kan die vergaderings bywoon want dit meng nie in met werk of ander verpligtinge deur die dag nie.”

Gerda het gesê dat die VLU vir vroue van alles ouderdomme en kulture is en dat daar vir seker iets is wat elke persoon se unieke belangstelling sal prikkel.

“Nie almal hou daarvan om te bak of om naaldwerk te doen nie, maar hulle verkies dalk fotografie of om te skryf. Mens sal ook nooit weet of jy van iets hou of goed is daarmee tot jy dit probeer nie,” het sy gesê.

Sharon Bodington versier ‘n Temari-bal. Foto: Jaco-Mari Futcher

Daar is ook gereeld kompetisies by die tak en ook op streeksvlak. Volgens Gerda is die VLU ‘n plek waar mens nooit ophou leer nie.

Gerdie Myburgh is al vir 10 jaar ‘n lid van dié tak. “Die lekkerste deel van die VLU is om nuwe mense te leer ken en om jouself uit te daag en nuwe vaardighede aan te leer. Dis lekker om deel te neem aan projekte en ek geniet die naaldwerk die meeste,” het sy gesê.

Sy het gesê dat sy altyd uitsien na hul volgende vergadering of werkswinkel, want sy leer altyd iets nuut en dis lekker om saam met ander vroue te kuier.

Related Articles

Back to top button