50 jaar van liefde en geduld

Manie en Sandra Grové het vir hul 50ste huweliksherdenking weer ewige trou aan mekaar belowe.

Na 50 geseënde jare het Manie en Sandrae Grové vir ‘n tweede keer ewige trou aan mekaar belowe.

“Dis wonderlik om so ’n lang pad met die liefde van jou lewe te kan stap,” het sy gesê. Hulle 50ste huweliksherdenking was op 15 Maart en hulle het dit gevier deur ‘n tweede troue vir naaste familie te hou.

“Ons is baie dankbaar dat ons 50 jaar vir mekaar gespaar is. Ons tweede troue was by die Hamilton Gastehuis in Randfontein en dit was so ‘n lieflike dag. Net familie is genooi en dit was wonderlik om die dag met ons vier kinders, nege kleinkinders en twee agterkleinkinders te kon deel,” het Sandra, 69, gesê.

Manie en Sandra Grové het vir hul 50ste huweliksherdenking weer ewige trou aan mekaar belowe tydens ‘n spoggerige funksie by Hamilton Gastehuis. Foto: ingestuur

Sandra en Manie het mekaar in 1965 ontmoet en het in 1969 in Klerksdorp getrou. Hulle het ses jaar later Randfontein toe getrek waar hulle kom nesskrop het. Hulle werk albei nou by Randfontein Eiendomme, maar Manie het vir meer as 30 jaar in die myn gewerk en Sandra het kinders grootgemaak.

“Ons is ‘n baie hegte familie. Vir ons huweliksherdenking kon ons kies tussen ‘n bootreis, ‘n vakansie by Sun City en ‘n troue saam met die familie. Ek is dankbaar dat ons ons spesiale dag met die familie kon deel.”

Manie is 73 jaar oud, en geniet dit steeds om elke dag op te staan om die dag saam met sy vrou aan te pak. Hulle werk al 20 jaar saam en hulle sien dit as ‘n seën, maar besef dat elke huwelik ongelukkig ongelukkig op- en afdraandes het.

“Geduld en liefde is wat ‘n huwelik laat werk. ‘n Mens moet baie respek vir mekaar hê en luister wanneer die ander een praat. Manie bederf my baie en ek is mal daaroor, want ek weet hy gee om vir my,” het sy gesê.

Manie en Sandra Grové het vir hul 50ste huweliksherdenking weer ewige trou aan mekaar belowe tydens ‘n spoggerige funksie by Hamilton Gastehuis. Foto: ingestuur

“‘n Mens moet leer om saam te kan werk en om probleme saam uit te sorteer sodra dit kop uitsteek,” het Manie bygevoeg.

Volgens Sandra is hul huwelik geanker in ‘n Bybelvers wat die predikant tydens hul troue 50 jaar terug gelees het. “1 Petrus 5:7 sê “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle” en dit is waarvolgens ons die afgelope 50 jaar geleef het en ons glo steeds dat dit die waarheid is.”

Manie was ‘n kranige drawwer en het sewe Comrades Marathons op sy kerfstok. Sandra was vir vier jaar Randfontein se Sakevrou van die Jaar. Al vier hul kinders woon in Randfontein en hulle sien mekaar amper elke dag.

“Ons sal nooit uit die dorp uit trek nie. Ons is baie lief vir die dorp se mense en so lank as wat ons kinders hier is, sal ons hier bly,”

Exit mobile version