Rosa sê haar sê op TV

Westonaria se gewilde familieprokureur, Rosa van Niekerk het weereens bewys dat sy mooi én slim is.

Westonaria se gewilde familieprokureur, Rosa van Niekerk, het weereens bewys dat sy mooi én slim is.

Sy praktiseer by Rosa van Niekerk Prokureurs in Westonaria en het onlangs oor Suid-Afrika se regstelsel op ‘n televisieprogram gesels.

Sy praktiseer al langer as 16 jaar en het ook die Mev Classic Universe-titel in Januarie 2018 gewen.

Rosa van Niekerk het in ‘n episode van The Legal Word ‘n debat met ‘n pastoor gevoer. Foto: ingestuur

Die program waarop sy ‘n gas was, se naam is The Legal Word en word op DStv-oopkanaal 38 gebeeldsend, asook op die selfoontoepassing LoveWorldSAT.

“Die aanbieder, Gloria Ababio het gevra om twee episodes van die program met my op te neem. In die eerste episode het ek oor die regte van transgenders in Suid-Afrika gepraat en in die tweede episode het ek oor vroue in beheer gepraat,” het sy gesê.

Volgens Rosa is The Legal Word ‘n baie kontroversiële program en in elke episode is daar ‘n ander gas.

Rosa van Niekerk by die ateljee waar The Legal Word opgeneem word. Foto: ingestuur

“In albei die episodes was die gas ‘n pastoor met wie ek ‘n debat oor die onderwerp gevoer het. In die tweede episode het ek en die pastoor egter saamgestem dat vroue mans moet respekteer, maar nie noodwendig onderdanig aan mans hoef te wees nie. Vroue moet slegs onderdanig wees aan God,” het sy gesê.

Rosa het al voorheen op ‘n televisieprogram verskyn nadat sy die skoonheidskompetisie in 2018 gewen het, maar dit was minder intimiderend, want sy het oor skoonheid gepraat.

Glordia Ababio en Rosa van Niekerk op die stel van The Legal Word. Foto: ingestuur

“The Legal Word is ‘n baie formele program en ons het dit in die ateljee in Johannesburg opgeneem. Dit was aanvanklik ‘n senutergende ervaring, maar die oomblik toe ek begin praat het, het ek vergeet van die kameras. Dit was uiteindelik ’n wonderlike ervaring en ek is so dankbaar vir die geleentheid,” het sy gesê.

Exit mobile version