MunicipalNews

Nagmerrie vir werklose man

‘n Ranfonteiner wat onlangs sy werk verloor het, wou voordele van die Werkloosheidsversekeringsfonds eis, maar hoor toe tot sy verbasing dat hy die Fonds R22 000 skuld.

Marius Swanepoel van Greenhills het in November 2018 sy werk verloor nadat hy ‘n week in die hospitaal deurgebring het.

Hy het as ‘n pakhuisbestuurder aan die Oos-Rand gewerk en toe hy sy werk kwyt is, het hy sy enigste bron van inkomste verloor en moes ‘n plan maak om sy vrou en kind te onderhou.

“My laaste uitweg was om na die Departement van Arbeid te gaan om van die Werkloosheidversekeringsfonds (WVF) te eis, want ek weet my vorige werkgewer het maandeliks ‘n bydrae tot die WVF gemaak. Ek het in Desember en weer in Januarie gehoor dat ek nie my geld kon kry nie en toe ek ‘n derde keer daar kom het hulle vir my gesê dat ek hulle R22 000 skuld,” het hy gesê.

“Dit is ‘n fout op hul rekords. Ek het aan die einde van 2009 eenkeer WVF geëis, maar ek het gou weer ‘n werk gekry en nie weer iets geëis nie. Volgens hul rekords het ek in 2010 vir ses maande WVF geëis, maar ek het op my bankstate gaan kyk en dit is nooit in my rekening inbetaal nie. Ek weet nou nog nie waarheen daardie geld is nie.”

Volgens hom het hulle ‘n reëling getref en hy moes een maal ‘n maand vir drie maande lank na die kantoor toe gaan om dokumentasie te teken sodat hy met die WVF-eise die geld wat hy hulle skuld kon afbetaal.

“Die drie maande was baie moeilik en ek moes ontslae raak van baie van ons goed sodat ons kon eet en al ons rekeninge betaal. Hulle het my laat verstaan dat ek na die drie maande sou kon eis, maar toe ek op 8 Maart daar aangekom het, het hulle gesê dat ek nog ‘n maand moet wag voordat ek iets kan eis,” het Marius gesê.

“Ek het nie meer opsies oor nie en die meeste van ons rekeninge is agterstallig. My vrou is medies ongeskik verklaar en kan nie werk nie. Noudat ek my inkomste verloor het, kan ons nie bekostig om ordentlik te eet nie en ons sukkel om ons seun in die skool te hou. Sy skoolloopbaan is my eerste prioriteit.”

Wat vir Marius die meeste ontstel is dat die WVF veronderstel is om mense in sy posisie te help, maar hulle maak sy lewe nog moeiliker. Hy stuur sy CV gereeld uit en doen aansoek vir elke moontlike pos, maar werk is skaars en hy het nog niks gekry nie. Hy het gesê dat hy op die oomblik so desperaat is om werk te kry dat hy bereid is om enigiets te doen.

“Ek hoop dat ek in April uiteindelik van die WVF sal kan eis sodat die nagmerrie kan eindig.”

Related Articles

Back to top button