MunicipalNews

#MunisipaleMaandag: G’n hulp met rioolprobleem na 67 oproepe

KYK: Tanya Smith van Greenhills sê riool loop steeds in haar erf in na 67 probeerslae om die munisipaliteit te kontak.

Tanya Smith sukkel al die afgelope maand om die rioolprobleem in haar erf in Greenhillslaan opgelos te kry.

“Daar is ‘n hoofdrein wat verstop is en dit veroorsaak dat die riool by die drein uitloop en in my erf opstoot,” het sy gesê.

Tanya Smith sukkel al die afgelope maand om die rioolprobleem in haar erf in Greenhillslaan te laat oplos. Foto: Jaco-Mari Futcher

Volgens haar het die probleem ‘n maand gelede begin kop uitsteek, maar dit het drie weke gelede vererger. Sy het toe die munisipaliteit gebel om dit te rapporteer, maar na die 67ste probeerslag het sy verneem dat hul telefone nie werk nie.

Sy het self na die munisipale kantore toe gegaan om die probleem te rapporteer, waarna werkers uiteindelik na haar huis toe gekom het.

“Hulle was vir so vyf minute hier en het gesê dat alles weer reg is, maar die volgende dag toe loop die riool weer in my erf in. Hulle was twee keer hier maar die probleem bly onopgelos,” het sy gesê.

Volgens Tanya kan hulle nie water in die huis gebruik nie, want dan stoot die riool buite op. Haar huis het ook drie keer oorstroom as gevolg van die verstopte drein.

“Ons kon nie die badkamer gebruik nie en dit is regtig ongelooflik sleg om so te lewe.”

Riool stoot al die afgelope drie weke by Tanya Smith se huis in Greenhillslaan op. Foto: Jaco-Mari Futcher

Sy het vertel dat die probleem daagliks op verskeie relevante WhatsApp-groepe gerapporteer word en dat wyksraadslid Ellik de Lange dit ook daagliks onder die munisipaliteit se aandag bring.

“Ek is moeg daarvoor om so te lewe. Ek kan nie my voet by die deur uitsit sonder om in riool te trap nie. Die munisipaliteit is boonop van geen hulp nie, en ek het geen idee wanneer my gesukkel gaan eindig nie.”

Related Articles

Back to top button