Westonaria se groot gat nog groter

Die grootte van die gat voor die Timrite-fabriek in Van der Bijlstraat in Westonaria het die afgelope twee maande verdubbel.

Werknemers van die fabriek in Van Der Bijlstraat in Westonaria waar daar op 13 Januarie ‘n groot gat ingeval het, soek antwoorde by die munisipaliteit.

Volgens Jurie Hayes, finansiële bestuurder van verkope en bemarking van die Timrite-fabriek is die gat, wat soos ‘n sinkgat lyk, ‘n groot kopseer vir hulle is omdat dit reg voor die fabriek is.

Benjamin Rabeng, ‘n werknemer van die Timrite-fabriek is bekommerd oor die groot gat voor die fabriek. Foto: Jaco-Mari Futcher

“Die gat se grootte het die afgelope twee maande verdubbel. Ek is weekliks in kontak met die munisipaliteit, maar ek kry nooit klaarheid oor wat fout is en wanneer dit herstel gaan word nie,” het hy gesê.

Die gat het op 13 Januarie begin inval, en die muur en sommige van die fabriekstoerusting saamgeneem. Die munisipaliteit het die volgende dag ‘n waterlek in die gat kom regmaak, maar nie ondersoek ingestel waarom die gat gevorm het nie.

Die gat se grootte het die afgelope twee maande verdubbel en ‘n stuk van die pad het al in die gat geval. Foto: Jaco-Mari Futcher

Die pad reg voor die fabriek is toegemaak en ‘n ompad deur die veld moet nou gebruik word. Daar loop boonop ‘n stroom rioolwater voor die fabriek verby en dit vloei in die gat in.

“Met elke reënbui word die gat groter en dieper, en ‘n gedeelte van die pad het ook daarin geval. Dit is om verskeie redes ‘n groot risiko. Iemand kan in die donker daarin beland en baie seerkry. Boonop hou die riool ‘n gesondheidsrisiko vir almal in die omgewing in,” het hy gesê.

Die gat is ‘n groot veiligheidsrisiko vir werkers omdat die grond enige tyd verder kan inval. Foto: Jaco-Mari Futcher

Die Herald het op 14 en 23 Januarie oor die gat berig. Die munisipaliteit is ook al telkemale sonder sukses om kommentaar genader.

Exit mobile version