Al die pad Kaap toe, op ‘n fiets!

Henk Pelser en Hugo Bekker het op 28 Februarie die 1 870km Kaapstad toe op hul fietse aangedurf.

Henk Pelser en Hugo Bekker het op Donderdag, 28 Februarie die pad Kaapstad toe op hul fietse aangedurf.

Dit sal die 13de keer wees dat die 63-jarige Henk dié 1 870km op sy fiets aflê. Hugo, 52, vergesel hom as deel van ‘n fondsinsameling vir sy kerk, die Full Gospel Church.

“Ek het in 2000 die eerste keer op my fiets Kaap toe gery. Ek kon vir ses jaar nie fietsry nie as gevolg van twee knievervangings en twee voetoperasies. Dit is nie meer so maklik soos vroeër nie, maar my geheim is dat ek elke dag vasbyt en probeer om pret te hê terwyl ons op die pad is.”

Henk Pelser en Hugo Bekker het op 28 Februarie die 1 870km Kaapstad toe op hul fietse aangedurf. Foto: Jaco-Mari Futcher

Hulle beplan om die afstand van 1 870km in agt dae af te lê. Hulle sien ook baie daarna uit om Sondag, 10 Maart, aan die Kaapstad-fietstoer deel te neem.

“Ek is die eienaar en afrigter van Mile High Kickboxing Club en omdat ek en Hugo albei skopboks doen, is ons gewoond aan verskeie tipes fiksheidsoefeninge en dit help definitief met die fietsry. Elke dag is ‘n nuwe uitdaging en daar is baie faktore soos die weer wat dit moeilik maak, maar waar daar ‘n will is, is daar ‘n weg.”

Henk was eintlik van plan om alleen per fiets Kaap toe te ry, maar hy het Hugo met ope arms verwelkom toe hy gehoor het dat Hugo graag geld vir hul kerk wil insamel. Voorheen het hy Kaap toe gery om te bewys dat hy kan, maar nou doen hy dit vir ‘n goeie doel. Hulle hoop om R200 000 in te samel.

Exit mobile version