Slaggat-dilemma: Hoe moet GPF misdaad beveg?

Die slaggate is vir lede van die Gemeenskapspolisiëringsforum, polisie en ambulansdienste 'n groot risiko wanneer hulle hul dienste in noodgevalle moet lewer.

Die slaggate in die dorp is vir almal ‘n probleem maar die nooddienste ly die meeste daaronder.

Volgens Jaco Visser, ‘n lid van die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in Randfontein hou die slaggate in Lazaarlaan, Elizabethweg, Condorrylaan en in die omliggende plotte groot gevaar in. Hy het gesê dat sy hele bakkie in party van die slaggate kan pas.

Die wiel van Jaco Visser, ‘n GPF-lid se bakkie pas binne dié slaggat in Elizabethweg. Foto: Jaco-Mari Futcher

“Die GPF, ambulanse en polisie gebruik almal hierdie paaie en nie almal se voertuie is gebou vir dié paaie nie. Baie GPF-lede wil nie meer patrollie ry nie omdat hulle self die skade aan hul voertuie moet regmaak nadat hulle deur ‘n slaggat gery het terwyl hulle in hul privaattyd in hul eie voertuig op hul eie onkoste die omgewing gepatrolleer het. Die meeste misdaad word in die aand gepleeg en dan moet ons die kriminele agterna sit, maar met die slaggate is dit ‘n groot risiko,” het Jaco gesê.

Die paaie stel GPF-lede en die polisie se lewens in gevaar terwyl hulle ‘n diens aan die gemeenskap lewer. Volgens Jaco het die munisipaliteit se pogings om die slaggate met grond te vul misluk, want alles spoel weg wanneer dit reën.

Nog ‘n GPF-lid, Stephan Visser, het gesê dat hy bekommerd is oor die nooddienste wat die paaie moet gebruik. “Wat gebeur in ‘n noodgeval? Ambulanse sal nie deur die slaggate kan ry wanneer hulle vinnig by hul bestemming moet kom nie.”

Die slaggate in Lazaarlaan is byna groter as Jaco Visser, ‘n GPF-lid, se bakkie. Foto: Jaco-Mari Futcher

Jaco het bygevoeg dat hy ook oor ander padgebruikers bekommerd is. “Mense met klein voertuie gaan groot skade kry as hulle in so ‘n slaggat beland, en hulle kan ‘n teiken vir misdadigers word wanneer hulle weens ‘n pap band langs die pad gaan staan. Fietsryers en voetgangers moet ook versigtig wees, want baie mense ry bo-oor sypaadjies om die slaggate te vermy.”

Henry Boyce, operasionele koördineerder van die Randfontein GPF het gesê dat die toestand van die paaie almal in die gemeenskap benadeel. “Dis vir my ‘n bekommernis, want ons as GPF beweeg oral rond en mens sien nie altyd die slaggate betyds nie. Ons pas ook munisipale eiendom op terwyl ons patrolleer, maar hoekom los hulle die slaggate dat dit so groot word?”

Die slaggate in Wheatlands is byna groter as Jaco Visser, ‘n GPF-lid, se bakkie. Foto: Jaco-Mari Futcher

Volgens Henry is dit nog erger wanneer dit reën, want dan sien mens nie die gate nie.

“Uiteindelik stel die swak paaie die hele gemeenskap in gevaar omdat die GPF en polisie nie hul werk kan doen nie. Mens kan eise indien wanneer voertuie beskadig word, maar die proses neem ‘n paar maande en dit beteken dat dié GPF-lede tot dan nie kan patrolleer nie,” het hy gesê.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version