MunicipalNews

Inwoners keelvol vir Venterspos se waterprobleem

Wateronderbrekings is 'n algemene verskynsel vir die gemeenskap van Venterspos.

Die meerderheid van Venterspos se inwoners ervaar al vir maande lank gereelde wateronderbrekings en hulle is keelvol daarvoor.

Volgens inwoner Demi van Wyk het hulle tydens een van dié onderbrekings vir byna twee weke sonder ‘n druppel water gesit.

“Wat maak ons as ons weer sonder water sit? Hulle sit die water af sonder enige kennisgewing. Ons stoor altyd bottels en bottels water, want ons weet nie wanneer daar weer onderbrekings gaan wees nie,” het sy gesê.

Demi het gesê dat daar wel soms water is, maar dat daar geen druk in die pype nie.

“Ons kan nie kosmaak of bad nie en die wasgoed en skottelgoed hoop op. Die hele gemeenskap ervaar dieselfde probleem en ons is nou moeg daarvoor.”

Die dorp het die afgelope twee weke reeds twee wateronderbrekings gehad wat langer as ‘n dag geduur het. Volgens Lourens Erasmus, bestuurder van water en sanitasie by Rand-Wes Plaaslike Munisipaliteit in Westonaria is die dorp se watertoevoer onlangs na ‘n ander lyn oorgeskakel.

“Venterspos het die afgelope ses maande ernstige waterprobleme ervaar, maar dit behoort nou opgelos te wees. Daar sal soms nog onderbrekings as gevolg van normale herstelwerk wees, maar dit behoort nie so ‘n groot probleem soos voorheen te wees nie,” het hy gesê.

Die waterprobleem is slegs een van vele munisipale probleme in die area. Hulle ervaar ook gereeld kragonderbrekings en in die oop areas rondom Venterspos word vullis onwettig gestort.

“Dit voel soms of almal van ons hier in Venterspos vergeet het,” het Demi gesê.

Die inwoners is steeds nie oortuig dat hul waterprobleem opgelos is nie en stoor steeds water vir in geval dit weer afgesit word.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button