#MunisipaleMaandag: Water lek al vir ses maande in Homelake

VIDEO: Raadslid praat oor die duisende liter skoon drinkwater wat vermors word agter die Aranda-fabriek in Homelake.

Vir langer as ses maande gaan daar daagliks duisende liter skoon drinkwater agter die Aranda-fabriek in Homelake verlore omdat ’n waterpyp lek.

Volgens Craig Harrison, DA-raadslid vir Wyk 7, is dié spesifieke probleem die afgelope ses maande telkemale gerapporteer, maar die munisipaliteit het nog geen poging aangewend om die lek te herstel nie.

Dié fabriek grens aan munisipale grond en benewens die damme water wat daar vorm, word die grond ook vir onwettige vullisstorting gebruik. Foto: Jaco-Mari Futcher

Also Read:

Riebeeck-meer eens ‘n trekpleister, nou ‘n seer oog

“Ek het dit gerapporteer en selfs foto’s vir die munisipaliteit gestuur sodat hulle die omvang van die probleem kon begryp. Die waterlek is steeds nie reggemaak nie. Die munisipaliteit het my probeer gerusstel en gesê dat hulle so gou as moontlik iemand sou stuur om na die probleem te kom kyk, maar tot vandag toe is daar nog niks aan die saak gedoen nie,” het hy gesê.

“Iemand moet uiteindelik vir die duisende liter vermorste skoon drinkwater betaal.”

Johan Visagie, die assistent van ’n ingenieur by die Aranda-fabriek het ook die waterlek by die munisipaliteit gerapporteer.

“Die probleem word net groter want die struktuur van die gebou begin daaronder ly. Ons het gesien dat van die boustrukture en die omheining begin insak, want dit staan die heeltyd in water. Ons is te bang om aan die omheining te raak, want alles is nat tot diep in die fondasie,” het Johan gesê.

Dié fabriek grens aan munisipale grond en benewens die damme water wat daar vorm, word die grond ook vir onwettige vullisstorting gebruik.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version