Groener toekoms vir Hoërskool Westonaria

AfriForum skep hoop by Hoërskool Westonaria deur ses bome in Boomplantmaand te plant.

Die AfriForum-tak in Westonaria het ses bome by Hoërskool Westonaria as deel van Boomplantmaand geplant.

Volgens Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Vaaldriehoek en Wes-Rand, beoog die organisasie om vanjaar meer as 2 000 bome landswyd te plant.

“Deur inheemse bome te plant is ons nie bloot besig om die omgewing te bewaar en dit esteties te verbeter nie – ons wys ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is ‘n belangrike deel van die ekostelsel en ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron, maar dit is ook deel van ons erfenis,” het Dewet gesê.

Barend Jonker help leerders van Hoërskool Westonaria die bome plant. Foto ingestuur.

Hy het vertel dat AfriForum jaarliks op ’n algemene asook ’n skaars boomspesie fokus. Die algemene boom vir 2018 is die opregte geelhout (Podocarpus latifolius), terwyl die skaars boom die grootwitgat (Boscia albitrunca) is. AfriForum moedig sy takke aan om inheemse bome te plant wat maklik in hul natuurlike omgewings aard.

“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n ewigdurende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het wel deurlopend sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en die AfriForum-tak in Westonaria en Hoërskool Westonaria het onderneem om hierdie sorg self te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons as AfriForum hier is om te bly en opregte hoop vir die toekoms het,” het Dewet vertel.

Paul Lewis en Danie Jonker saam met leerders van Hoërskool Westonaria. Foto ingestuur.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by die veldtog betrokke te raak en deel te word van ’n groener toekoms.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version