Eikepark eens ‘n droom, nou gevaarlik

'n Inwoner en raadslid het 'n visie vir Eikepark soortgelyk aan Central Park in New York.

Hoewel dié wyk na die eikebome vernoem is, is die gebied rondom die eikebome alles behalwe ‘n spoggebied. Jenifer Waterboer en Craig Harisson beplan om dit te verander.

“Ons droom is om die gebied rondom die bome te omhein, sekuriteitwagte daar te plaas, ’n staproete te maak, bankies en ‘n buitegim te daar te stel om ’n ontspanplek vir die gemeenskap te skep,” het Jennifer gesê. Sy dien al vir meer as ’n dekade op die stadsraad se komitee en staan ook bekend as die Oaktree Lady in dié area.

Volgens Craig Harrison is daar baie misdaad en rommelstrooiing tussen die eikebome van Eikepark en in die winter kap mense die bome af vir hout. Foto: Jaco-Mari Futcher

Volgens Craig, ’n DA-raadslid, is hulle visie dat dié park uiteindelik soortgelyk aan Central Park in New York sal wees.

“Op die oomblik is die gebied gevaarlik. Hier is baie misdaad en rommelstrooiing, en in die winter kap mense dié bome af vir hout.”

Benewens die lowergroen sambreel wat dié bome asemrowend maak, is eikebome baie belangrik vir die omgewing en behoort bewaar te word. Bome reguleer klimaat, want hulle transpireer en verkoel die lug rondom hulle. Dit gaan nie net oor die skaduwee nie, maar op die bome se blaaroppervlak verdamp die water en dit bring afkoeling mee.

Die eikebome kan tot meer as ’n duisend jaar oud word en het sowat 200 tot 300 liter water per dag nodig om optimaal te groei. In Stellenbosch en Potchefstroom is die eikebome as ’n nasionale erfenis verklaar.

Benewens die lowergroen sambreel wat dié bome asemrowend maak, is eikebome baie belangrik vir die omgewing. Foto: Jaco-Mari Futcher

Eikepark het sy naam te danke aan die eikebome wat deur Randfontein Estates Gold Mine geplant is. Die bome, waarvan daar nagenoeg 100 is, is meer as 100 jaar oud. Craig het na die bome verwys as een van Randfontein se ‘groen longe’.

Hoewel hulle baie planne het vir die gebied, lê daar baie werk vir voor. Craig wil met ’n petisie begin om die probleem op nasionale vlak onder belanghebbers se aandag te bring. Die petisie het nie ‘n politieke agenda nie.

“Die bome is mooi en mense moet sien hoekom die gebied Eikepark genoem word. My droom is om ’n gesellige area te skep waar die gemeenskap kan ontspan en wat kinders uit die moeilikheid sal hou,” het Jenifer gesê.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version