Local newsNews

#WysheidWoensdag: Toets jou gehoor dié gehoorbewustheidmaand

Die Herald het by Danielle Cronje van die Life Robinson Privaat Hospitaal gaan uitvind wat 'n gehoortoets behels.

Volgens Danielle Cronje, oudioloog by Life Robinson Privaat Hospitaal se gehoorsentrum, Hearcare, is gehoorverlies ‘n ernstige probleem omdat dit mens van die res van die wêreld isoleer.

September is gehoorbewustheidmaand en daarom het die Herald gaan uitvind wat ‘n gehoortoets behels.

“Ons fokus op die buite-, middel-, en binneoor. Die eerste toets is om die toestand van die oordrom te bepaal. Ons gebruik ‘n toestel wat die oordrom op ‘n rekenaarskerm vertoon om te bepaal watter kleur dit is. ‘n Rooi oordrom is ‘n aanduiding van infeksie en die ideale kleur vir ‘n oordrom is grys,” het sy gesê.

“Die volgende toets is om die middeloor en die funksionering daarvan te toets. Die toestel wat ons gebruik dui enige obstruksies aan. Die laaste toets bepaal die persoon se gehoordrempels. Ons toets die persoon se gehoor op verskillende frekwensies en normale gehoor is tussen nul en 20 desibels (dB).”

Die proses is vinnig en pynloos. Indien die toets gehoorverlies aandui, is daar verskeie opsies beskikbaar om die persoon se gehoor tot ‘n mate te verbeter, afhangend van die vlak van gehoorverlies. Daar is ander toetse wat ook gedoen word tydens ‘n gehoortoets, maar volgens Danielle is die genoemdes die belangrikstes.

Danielle se prioriteit gedurende gehoorbewustheidmaand is om skole te besoek sodat die leerders se gehoor getoets kan word. Op 27 September sal die gehoorsentrum van 9vm tot 3nm gratis gehoortoetse doen as deel van gehoorbewustheidmaand. Skakel gerus 011 412 2414 om ‘n afspraak te maak.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button