“Ek wil veg” – jong leukemielyer

Dag vol pret en musiek vir meisie met leukemie

Plaaslike musikante het die afgelope naweek agter die mikrofoon ingeskuif ten bate van ‘n 17-jarige meisie wat onlangs met leukemie gediagnoseer is.

Op 25 Augustus is ‘n Talentaand en ‘Open Mic’-kompetisie by die Tuinhekkie gehou. Die doel van die geleentheid was om Clarece Scholtz, ’n matriekleerling by Hoërskool Florida, te help om fondse in te samel vir ‘n beenmurgoorplanting.

Jac’Q Nel was ‘n gaskunstenaar by die Talentaand en ‘Open Mic’-kompetisie by die Tuinhekkie. Foto: Ingestuur

“Ek is op 23 Julie met Akute Limfoblasiese Leukemie gediagnoseer. My neus het voorheen onophoudelik gebloei, maar ek het nooit gedink dat dít met my sou gebeur nie,” het sy gesê.

“Ek is baie sportief en doen ballet vandat ek vyf jaar oud is. Ek sing in die koor en is mal oor verf, skilder en kuns. Ek is tans besig met my matriekjaar en ek wou na skool graag gaan studeer het, maar nou het dié siekte oor my pad gekom.”

Clarece se lewe het binne drie weke handomkeer verander. “My ma het haar werk verloor en ons het geen mediese dekking nie; die mediese kostes word daagliks meer en meer. Ek moet dringend ’n beenmurgoorplanting kry, maar ons soek nog vir ‘n skenker. Ek kry nou chemoterapie en ek moes my lang blonde hare op 13 Augustus laat afskeer,” het Clarece gesê.

Clarece het vertel dat haar familie haar ongelooflik baie ondersteun en dat al drie haar stiefbroers graag hul beenmurg vir haar wil skenk, maar die toetsuitslae is nog nie beskikbaar nie.

“Ek en my familie het vriende en mense van die gemeenskap nodig om te help, daarom is dié fondsinsameling gehou. Ek wil veg en ek gaan nie lê nie,” het sy bygevoeg. Clarece se beenmurgoorplanting gaan hulle minstens R200 000 uit die sak jaag.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version