Local newsNews

90 jaar van koekbak en naaldwerk

Annetjie Herbst woon al vir meer as 65 jaar op die Bootha Plotte in Randfontein en sy is die oudste suster in AGS Randgate.

Annetjie Herbst woon al vir meer as 65 jaar by Bootha Plotte in Randfontein. Sy het op 16 Julie 90 jaar oud geword.

Annetjie het ses kinders waarvan twee reeds oorlede is. Volgens Marina Wasserman, 64, haar oudste dogter, is haar ma op 90 steeds ’n grapjas.

“Sy sal mens altyd onverwags knyp of die een of ander poets bak,” het Marina gesê.

“Sy het ook ’n ernstige kant, want sy is ’n baie netjiese persoon. Sy is eintlik ’n perfeksionis.”

Volgens Marina deel sy, haar ma en Annetjie se susterskind, Marlese van Tonder die familienaam, Anna Elizabeth. Annetjie en haar man, wat twee jaar terug oorlede is, het getrou toe sy 23 jaar oud was.

“My mammie en pappie was baie lief vir mekaar. Hy wou soms nie eers dat sy ’n middagslapie geniet nie, want hy wou eerder tyd saam met haar deurbring. Hy was voor sy dood baie siek, maar sy het hom met soveel liefde versorg,” het Marina vertel.

“Ons het ’n groot familie en my ma is al ’n oumagrootjie van 30 agterkleinkinders. Sy kuier op die oomblik by familie in die Kaap. Sy is baie opgewonde, want sy het kaartjies vir die Gospel Skouspel gekry vir haar verjaarsdag.”

Ongelukkig het Annetjie net een vriend en een vriendin van haar ouderdom, maar sy geniet hul geselskap. Sy is ook die oudste suster in haar gemeente, AGS Randgate. Annetjie het vroeër by die Connie Mulder Sentrum asook in die Life Robinson Privaat Hospitaal se kombuis gewerk.

“My ma is baie lief vir tuinmaak en om na musiek te luister. Ek onthou as kind het ons ook saam gebak en naaldwerk gedoen. Sy het altyd seker gemaak dat ons naels skoon is voordat ons die deeg mag knie en sy het gesê dat ’n mens se naaldwerk binne en buite netjies en mooi moet wees,” het sy vertel.

“My ma praat deesdae baie oor die verlede,” het Marina bygevoeg.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button