Sestien jaar van mooimaak in die Abba Sentrum

Gerty Pietersen is al vir amper 30 jaar ’n haarkapper in die dorp.

Gerty Pietersen het 16 jaar gelede haar eie onderneming, Salon Hair Exstatic, in die Abba Sentrum geopen. Die sentrum vier op 1 Augustus sy 20ste bestaansjaar.

“Ek woon in Toekomsrus, maar ek is ’n baie bekende gesig hier in Randfontein. Ek is al vir amper 30 jaar ’n haarkapper in die dorp,” het Gerty gesê.

Haarkappery is Gerty, 66, se grootste passie in die lewe en sy glo dat sy daarvoor in die wieg gelê is.

Sy is ook baie betrokke in die gemeenskap en veral by haar kerk. Sy help graag minderbevoorregtes en sy hou eenmaal ’n jaar ’n Kersete vir minderbevoorregte kinders.

Baie van Gerty se kliënte is bejaardes in Randgate en hulle het nie noodwendig almal vervoer nie. Volgens haar is dit vir baie van hulle gerieflik om sommer na haar salon toe te stap.

“Ek is baie gelukkig in die Abba Sentrum en as die Here dit toelaat sal ek graag nog 16 jaar my besigheid hier wil hê. Ek hou baie van die mense in Randgate en ek hoef my nie oor my kar te bekommer nie, want ons parkeerplek is sommer voor die salon se deur en dis baie veilig. Ek het nog nooit enige probleme met misdaad gehad nie,” het sy gesê.

Die salon het al baie goeie herinneringe gebring, en van die hoogtepunte in haar loopbaan is die talle skoolkinders wat sy jaarliks help gereed maak vir die matriekafskeid en die bruide wie se hare sy al vir hul groot dag gestileer het. Gerty hou daarvan om vroue mooi te maak.

“Ek dink ek het die beste kliënte in Randfontein. Hulle is almal goeie mense en hulle is almal gelowig. Sonder die Here en sonder my kliënte se gebede en bystand sou ek nie kon wees waar ek vandag is nie.”

Gerty is baie lief vir haar dogters en haar kleinkinders. “My dogters stel nie daarin belang om hare te sny nie, maar dis my passie en ek sal daarmee aanhou tot ek nie meer kan nie,” het Gerty gesê.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version